Kola du Toit (links agter) skoolhoof van HTS Daniel Pienaar, is die derde geslag in haar familie wat onderwys as ’n loopbaan gekies het. Haar dogter Junene du Toit (regs) is die vierde geslag. Voor is Kola se ma, June Griesel wat soos haar ma, Kola Young (oorlede), ook ’n onderwyseres was. Foto:VERSKAF

DIE dertiende skoolhoof van HTS Daniel Pienaar, Kola du Toit, is ’n gebore en getoë onderwyser met onderwysbloed wat ver en wyd in haar familie loop.

Indien haar oorlede ouma, Kola Young, bygetel word is daar vier opeenvolgende generasies van onderwyseresse in een familie.

“My ouma (Kola Young) was die eerste meisie wat op Douglas in die Noord-kaap gematrikuleer het. Geld was skaars en sy het nie altyd al die handboeke gehad nie, maar het pouses en gedurende vakansies, boeke van leerders uit meer welvarende huise geleen,” sê Kola du Toit, wat aan die begin van 2020 as HTS Daniel Pienaar se skoolhoof aangestel is.

“Sy het danksy die ondersteuning van die Girl Guides aan die Universiteit Stellenbosch onderwys gaan studeer.

“As onderwyseres gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het sy haar gesin aan die lewe help hou met ’n onderwystjek van 25 pond. Sy het ook kortverhale geskryf.”

Du Toit se ma, June Griesel, ook ’n Matie, was ’n onderwyseres op Kimberley. Nadat haar man, Ben Griesel, op die ouderdom van 38 verongeluk het, het sy haar drie kinders op ’n onderwyssalaris grootgemaak.

“My broer en suster was ook in die onderwys voordat hulle by tersiêre inrigtings aangestel is.”

Du Toit se dogter, Junene du Toit, is die vierde geslag vroue in die onderwys en sy is ’n departementshoof in musiek by St George’s Preparatory School in Port Elizabeth. Maar dit is nie net die vier generasie vroue wat loopbane in die onderwys gevolg het nie. Du Toit se man, Gabrie is ook ’n onderwyser. Hy is verbonde aan Laerskool Lorraine in die Baai.

“Onderwys mag miskien nie die mees betalende beroep wees nie, maar die rykdom lê in die roeping en dat dit die hoeksteen is van alle beroepe in die samelewing,” sê Du Toit.

Sy is van mening dat meer as een onderwyser in ’n familie eiesoortige voordele inhou. Altesaam is daar 19 onderwysers in haar familie.

“Die ouer geslag onderwysers is rolmodelle vir die jongeres. Onderwysers in een gesin of familie ondersteun mekaar omdat hulle die beroep se vereistes verstaan.

“Intergenerasie-gesproke word kollektiewe kennis ook oorgedra wat ’n onderwyser vir sy roeping en rol wat hy of sy behoort te speel voorberei,” sê Du Toit.

Sy sê ook dat die onderwysers by Diamantveld Hoërskool in die Noordkaap, waar sy 41 jaar gelede gematrikuleer het, ’n reuse impak op haar lewe gehad en steeds het.

“Dit is my hoop en vertroue dat voornemende onderwysers verby die negatiewe aspekte van onderwys sal kyk en steeds bereid sal wees om die tuig van hierdie edel beroep op te neem,” sê Du Toit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article