Ongeveer 24 uur nadat twee mense, insluitend ’n 3-jarige seuntjie, in ’n huisbrand in Kariega dood is, is ’n verdagte in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Foto: Ter Illustrasie

Ongeveer 24 uur nadat twee mense, insluitend ’n 3-jarige seuntjie, in ’n huisbrand in Kariega dood is, is ’n verdagte in verband met dié voorval in hegtenis geneem.

Lede van die Kabega Park-polisiestasie het Maandagaand, 18 Oktober inligting ontvang oor waar die verdagte hom bevind en hy is omstreeks 23:00 in Rocklands net buite Gqeberha aangekeer.

Volgens polisiewoordvoerder, Kapt. Gerda Swart, terwyl polisielede besig was om die 32-jarige man in hegtenis te neem, het ’n klaer hulle in kennis gestel dat dieselfde verdagte hom na bewering ’n paar dae tevore gesteek het.

“’n Klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer is ook teen die verdagte aanhangig gemaak en hy sal na verwagting Woensdag, 20 Oktober in die landdroshof in St. Albans op dié klag verskyn,” het Swart gesê.

Sy het bygevoeg dat die verdagte ook binnekort in die Kariega-landdroshof op twee aanklagte van moord, een van poging tot moord en brandstigting sal verskyn.

Die inhegtenisneming hou verband met ’n huis in Olivierstraat, Blikkiesdorp, Kariega, wat Sondagoggend net ná middernag na bewering deur die verdagte aan die brand gesteek is. Daar was blykbaar ses mense in die huis toe die brand uitgebreek het.

Hulle het die agterdeur afgebreek en ontsnap, maar ’n familievriend het teruggehardloop in die huis om die 3-jarige seuntjie te red. Misumzi Tee (30) en Azabeluncedo Madikane (3) is in die brandende huis vasgevang en het doodgebrand.

Bron: SAPD-verklaring

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article