OP Kariega is daar ’n oumagrootjie wat breëbors rondloop oor haar vyf generasies vroue in die familie.
Ruth Scholtz sê dit is ook nie aldag dat ’n familie daarop kan roem dat hulle vir die vierde keer, vyf generasies is nie. Maar hoe werk dit nou?
“Sien, toe my oudste dogter Louisa in 1973 gebore is, was ons vir die eerste keer vyf generasies vroue byme-kaar.
“Dit was my oumagrootjie Gertrude Jacobson, my ouma Ruth Rossouw, my ma Rita, ek en my dogter Louisa,” sê Ruth in haar sitkamer wat vol familiefoto’s hang.
Die tweede keer dat hulle vyf generasies was, was met Ruth se tweede dogter, ook Ruth genoem, se geboorte in 1975.
“Daarna, in 1978, is my ouma-grootjie Jacobson oorlede en toe was ons net vier generasies. Maar in 1994 is my dogter Yolandé se eersteling, my eerste kleindogter Nickey, gebore en toe is ons weer vyf generasies vroue in die familie.”
In 2011 is Ruth se se ouma Rossouw oorlede en het die generasies weer teruggeval na vier, maar tien jaar later, in 2021, is die familie nou vir die vierde ronde wéér vyf generasies vroue.
“Dit was met Nickey se dogtertjie Mary-Jane se geboorte op 16 Mei vanjaar dat ons nou weer met trots kan sê ons is vyf generasies vroue in die familie,” sê Ruth.
Bertus en Ruth Scholtz is die trotse ouers en grootouers van vier kinders, sewe kleinkinders en nou ook hul eerste agterkleinkind.


