Foto ter illustrasie. Foto: Zakir Hossain Chowdhury/NurPhoto via Getty Images


Die Despatch-posduifklub, eens die dorp se slagpale wat later toe dit heeltemal vervalle was, deur dié duiweklub by die destydse Despatch-munisipaliteit gehuur is, spog nou met splinternuwe ‘vere’.

Die klubhuis sowel as die Nasionale Hok is danksy borge en die hulp van een van die klublede, Rudie van Jaarsveld, opgeknap en het ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.

“Die klubgebou was in die veertiger jare die slagpale van Despatch. Die gebou en die gronde is in 1973 by die Despatch-munisipaliteit gehuur. Op daardie stadium was dit slegs die bouvallige mure en ‘n dak. Lede het oor die jare baie verbeteringe aangebring,” sê Hennie le Roux van Despatch-posduifklub.

Die lede is baie trots op hulle klubgeriewe wat van tyd tot tyd ook deur die Oostelike Provinsie Duiwe Unie gebruik word vir vergaderings en funksies.

Die klub beplan hulle eerste jongduifveiling van die jaar op 4 Maart. Gideon Barnard is die organiseerder en kan gekontak word by 061 521 0246.

Die eerste wedvlug van die seisoen begin op 1 Junie en die verste punt van waar die duiwe gelos gaan word is op Parys, met ‘n lugafstand van 788 kilometer.

Wat die Nasionale Hok aanbetref, is Jos Erasmus die ervare afrigter en nuwe inskrywings word steeds ontvang.

Die duiweklub bedank graag die volgende borge vir hul skenkings: Brad Bown, Pieter Joubert, die vriende van Gideon Barnard, Colour Centre en Ronel Joubert van R&M Enterprises.

Die Despatch-posduifklub se komitee vir 2023 is: Frans Ferreira (voorsitter), Twakkies du Toit (onder-voorsitter), Santie Mattheus (sekretaresse), Gideon Barnard (tesourier) en Fonnie van der Ryst (wedvlugsekretaris).

‘n Paar nuwe lede het ook by die klub aangesluit. Enige voornemende lede is welkom en kan Santie Mattheus kontak by 063 692 6961 vir ‘n aansoekvorm.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article