Vallei Diere Vriende se Jeanne Smit, Susan Human en Jeanette Pretorius.

Foto:HEILIE COMBRINCK

Siek honde wat met klippe of kookwater gegooi of selfs aan bome vasgebind en gemartel word, en klein katjies wat soos sokkerballe rondgeskop word is enkele van die wreedhede teenoor diere waarmee vrywilligers van Vallei Diere Vriende op Kirkwood te doen kry.

Dié liefdadigheidsorganisasie het nie ‘n perseel nie en weens die afwesigheid van ‘n veearts in die Vallei, word hulle bygestaan deur die veeartse van Uitenhage Dierekliniek op Kariega én hulle werk nou saam met die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging.

“Ons is nie dokters nie en ons almal het voltydse werke, maar vir ‘n dier in nood is ons altyd daar om te help,” sê Jeanette Pretorius van Vallei Diere Vriende op Kirkwood.

Jeanette glo ‘n gebrek aan goeie opvoeding vorm die kern van dieremishandeling. “Mense móét geleer word om hul diere te versorg en kinders moet geleer word om nie diere seer te maak nie. Honde en katte moet ingeënt en gesteriliseer word en moet elke dag kos kry.”

Vallei Diere Vriende bestaan uit minder as ‘n handjievol vrywilligers wat diere in nood of met sterilisasies en medikasie van diere in die Sondagsriviervallei help.

“’n Groot dankie aan al die mense en besighede in die Vallei wat ons ondersteun. Soms raak ons moedeloos want die geld raak op, maar dan kom daar ‘n donasie soos manna uit die hemel wat ons weer moed gee, want dan kan diere weer gehelp word.

“Dankie aan elkeen wat ‘n dier se nood raak-sien en moeite doen om te help. Stadig maar seker kan ons sien dat die bewusmaking van dierewelsyn tog ‘n verskil begin maak.”

Jeanette word bygestaan deur Barry van der Merwe, Susan Human en Jeanne Smit.

Jak de Priester kom sing om te help

Vallei Diere Vriende is afhanklik van fonds-insamelings en donasies om vir medikasie, behandelings en die veearts-rekenings te betaal. Om hulle geldtrommel te help vul, het die ATKV-tak Sondagsriviervallei die geleentheid aangegryp om Jak de Priester na die Vallei te nooi vir ‘n buitelugoptrede ten bate van dié dierevriende.

Willie Rossouw, voorsitter van ATKV Son-dagsriviervallei., sê Vallei Diere Vriende lê hom baie na aan die hart.“Elke keer wanneer daar ‘n dier in nood is weet almal in die hele Vallei om op hulle nommer te druk. Dit is ’n klein groepie mense met ‘n ongelooflike passie vir diere en hulle betaal baie keer uit hul eie sakke vir behandelings. Daarom wil ons graag ‘n gedeelte van die konsert-inkomste aan Vallei Diere Vriende skenk.”

Jak de Priester se optrede word in piekniekstyl op Saterdag, 6 November om 19:00 by Cleveland B&B aangebied. Kaartjies is R100 per volwassene en R50 per kind en is beskikbaar by Perfect Water, Klinicare Apteek, Jeanette Pretorius 082899 7134 of Willie Rossouw 083 309 7324.

  • Enigiemand wat ‘n finansiële bydrae aan Vallei Diere Vriende wil lewer, kan Jeanette op 082 899 7134 bel of regstreeks ‘n donasie maak aan Vallei Diere Vriende, ABSA Kirkwood (takkode 632005), spaarrekening 926 024 3841.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article