’n Unieke orrel- en kooruitvoering word Woensdagaand by NG Kerk Uitenhage-Oos aangebied deur orrelis Marius de Bruin.

Foto: Verskaf

Dit sal ’n aand wees om nooit te vergeet nie … die betowerende musiek van ’n unieke orrel- en kooruitvoering wat Woensdagaand, 19 April, vanuit die NG Kerk Uitenhage-Oos sal opklink.

Die hoofdoel van dié sonderlinge uitvoering is om geld in te samel vir die herstel van Uitenhage-Oos se formidabele kerkorrel.

“Orrels is delikate instrumente en moet gespeel word. As dit te lank in onbruik staan, tel dit skade op en herstelwerk is ontsettend duur,” sê orrelis Marius de Bruin wat dié uitvoering saamgestel het.

“Dit lê basies by die skaapleer in die blaasbalke en membrane van die sleepkaste wat skade ly as dit nie gereeld gebruik word nie. Dié leer word hard en verkrummel. Daarom raai ek gemeentes aan om hulle orrels gereeld te gebruik om sodoende die orrel se lewensduur te verleng.”

De Bruin is ’n man van vele talente wat verskeie toekennings, medaljes, en beurse vir sy orrelspel ontvang het. Hy het sy B.Mus graad aan die Universiteit Pretoria verwerf met orrel-opleiding onder prof. Wim Viljoen, klavier onder prof. Heinrich van der Mescht, en komposisie onder prof. Stefans Grové.

De Bruin het ook twee operas, Via Dolorosa en Mara, geskryf asook vele kamermusiekwerke wat in Europa uitgevoer is.

“Via Dolorosa was op publieke aanvraag vir vyf jaar in Pretoria herhaal,” sê De Bruin.

Musiekliefhebbers kan met Woensdagaand se program onder meer uitsien na die Via Dolorosa orrel- en kooruitvoering met orreliste Liesel Murphy en Romano Jonathan en Hoërskool Brandwag se koor as die gaskunstenaars.

“Ek bied die res van die program aan met onder meer twee premières van my eie werke en ’n suite, Mortum Jesum Christus.

“Die hoofuitvoering is musiek uit films, oftewel ’n klankbaan wat ek gaan doen op ‘n swart en wit film wat in 1916 geskiet is, naamlik Jesus of Nazareth. Dis ’n baie emosionele en indrukwekkende werk, vol klankeffekte wat ek op die orrel gaan doen,” sê De Bruin.

Buiten orrel speel De Bruin ook klavier, die viool, en is ’n komponis. Marius het ook ’n liefde vir literatuur en het reeds ’n boek, sowel as digbundels en kortverhale geskryf.

De Bruin bied lesse in klavier, viool, orrel, sowel as musiekteorie, musiekgeskiedenis en komposisie aan.

Volgens De Bruin gaan Pekelharing Organ Builders die orrel herstel. “Hulle is bekend vir hulle uitstekende vakmanskap en werk ook in ander Afrika-lande.”

Die Via Dolorosa orrel- en kooruitvoering word Woensdag, 19 April om 19:00 in die NG Uitenhage-Oos se kerk aangebied. Kaartjies is by die deure beskikbaar en is R60, vir pensionarisse en studente R40, en kinders R20.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article