‘n Kat wat vermoedelik in die Volkswagen-fabriek op Uitenhage in ’n voertuig ingeglip het, het in dié einste voertuig op ’n motorvervoervragmotor beland en is uiteindelik sowat 750 km verder by ’n motorhandelaar in Kaapstad ontdek.
Daar word nou hoog en laag na haar moontlike eienaar gesoek.
Easton Fredericks, ’n werknemer by Barons Tokai, het haar op 27 Junie op die passasiersitplek van ’n Volkswagen Polo Vivo Maxx ontdek.
Die ligbruin kat met donker strepe was volgens Fredericks aanvanklik baie verwilderd. Sy het eers weggehardloop, maar het in die omgewing van die motorhandelaar gebly.
Sy is uiteindelik met tuna in ’n hok gevang. Werknemers het haar Baroness gedoop voordat sy in die sorg van Tears Animal Rescue geplaas is.
Marilyn Hoole, direkteur en medestigter van Tears Animal Rescue, sê die kat was nie gesteriliseer nie, maar is beslis ook nie wild nie.
Sy skat die kat is sowat twee jaar oud. Buiten vir ’n tranerige linkeroog, is die kat in ’n relatief goeie toestand, sê Hoole.
Sy het egter nie ’n mikroskyfie gehad nie en sosiale media is ingespan in ’n poging om haar eienaar op te spoor.
Maandag Maandaghet die hoop opgeflikker dat Baroness se eienaar in Port Elizabeth opgespoor is. ’n Vrou het hulle gekontak en gesê haar kat is sedert 20 Junie vermis.
Hoewel Baroness op ’n druppel lyk soos dié vrou se vermiste kat, is haar kat ’n mannetjie.
Baroness is intussen met ’n mikroskyfie toegerus.
Hoole sê ’n mikroskyfie is uiters belangrik vir troeteldiere.
“As Baroness ’n mikroskyfie gehad het, sou ons maklik haar eienaar kon opspoor.”
Hoewel Hoole hoop om die regmatige eienaar op te spoor, het Baroness reeds ’n aanbod van ’n nuwe tuiste by Fredericks.
“Indien niemand haar opeis nie, sal ek haar met graagte aanneem. Sy sal nie my eerste aanneemkat wees nie,” sê Fredericks.
- Enigeen wat moontlik inligting oor Baroness of haar eienaar het, word versoek om Tears Animal Rescue by 021 785 1310 te bel.




