Morris Olivier wys waar Vrydagmiddae se gewilde kaphou-pogings vir ’n fortuinhou of hou-in-een vanaf die Uitenhage Gholfklub se dek na twee nabygeleë setperke gehou word.

Foto: Heilie Combrinck

Die Uitenhage Gholfklub is nie net vir gholfspelers nie, maar dié klub se deure is ook oop vir die publiek om daar gesellig te kuier, etes te geniet en selfs om die fasiliteite te huur vir funksies.

“Dis amper soos die bes bewaarde geheim op die dorp. Mense weet nie hoe lekker hulle hier kan kuier, eet, en ontspan nie,” sê Morris Olivier, bestuurder van die Uitenhage Gholfklub.

“Vrydae kook dit met gelukkige trekkings en ‘n spyskaart wat nie maklik oortref kan word op hierdie dorp nie. Adele van Amper Karoo doen die spyseniering en dit is regtig lekker en billike pryse. Daar is ook ‘n verskeidenheid vingeretes wat in ‘n mandjie bedien word, ideal vir ‘n paar pelle wat hier wil kom ontspan.”

Die gholfklub se groot saal kan gehuur word deur Barklystraat Teater, terwyl die kroegdek sowel as die stoep (beide met braaigeriewe toegerus), by die gholfklub vir slegs R250 per lokaal gehuur kan word.

“Woensdae is ook lekker kuieraande en ons nooi die publiek om hier ‘n draai te kom maak, ietsie te eet en drink en die ontspanne atmosfeer saam te kom geniet.”

Nog ‘n trekpleister wat vir groot vermaak op Vrydagmiddae sorg is die kaphou-pogings vir ‘n fortuinhou of hou-in-een van die dek af na die twee nabygeleë setperke.

“Enigeen is welkom. Dit is slegs R20 vir drie pogings en die speler wat ‘n hou-in-een slaan kry die geld. Dit is nie onmoontlik nie en ‘n hele paar ouens het al die jackpot gewen,” sê Olivier.

  • Vir meer inligting bel Morris Olivier by 082 781 7488.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article