DIE top 8 deelnemers in VIA se televisie-reeks Die Kontrak is verlede week bekendgemaak en ’n borrelende onderwysstudent van Uitenhage, Tyral-Lee Miggels, is onder dié finaliste.
Aspirant-musiekster Tyral-Lee is ná ’n landwye aanlyn veldtog uit bykans 2 000 sangers gekies as een van die agt finaliste.
’n Rits uitklopkonserte word gehou met die broer-en-suster-duo Bobby en Karlien van Jaarsveld as die aanbieders. Mentors Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall brei die aspirant-musieksterre vir die strawwe uitklopkonserte wat hulle week na week moet aandurf.
Oor haar deelname in Die Kontrak het Tyral-Lee gesê, “Ek het ’n passie vir musiek en dié kan my groot deurbraak wees. Dit kan so baie deure vir my oopmaak. Maar ek dink ook al die deelnemers verdien om te wen.”
Tyral-Lee se mentor is Tarryn Lamb.
’n Kennerspaneel wat bestaan uit die sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha asook Barry Pretorius, die regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, sal weekliks hul sê sê oor die deelnemers se optredes.
Die wenner sal op 23 November tydens Afrikaans is Groot 2018 by die Sun Arena in Pretoria aangekondig word en ’n kontrak ter waarde van R1 miljoen met Coleske Artists losslaan.
Die Kontrak word elke Woensdag om 20:00 uitgesaai op DStv-kanaal 147 met heruitsendings op Sondae om 18:00. Die JOOX-app is die amptelike stroomvennoot van Die Kontrak. – HEILIE COMBRINCK



