Riley Erasmus (7) en Tatum Kleinhans (12), albei leerders van die Laerskool Frans Conradie, was finaliste in die Toyota Dream Car kunskompetisie.

Foto: Verskaf

Twee leerders van die Laerskool Frans Conradie is onlangs beloon vir hul talent ná afloop van ’n kunskompetisie wat deur Toyota aangebied is.

Riley Erasmus (7) het tweede plek gewen in die kategorie vir kinders onder 8 jaar en Tatum Kleinhans (12) het met ’n vierde plek in die kategorie vir kinders tussen 12 en 15 weggestap.

Volgens ’n verklaring van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM), is die “Dream Car” kompetisie, tans in sy sewentiende jaar, een van die grootste internasionale kunskompetisies en oop vir inskrywings van alle kinders onder die ouderdom van 15.

Byna 16 000 inskrywings het tussen 20 November 2023 en 16 Februarie vanjaar ingestroom.

“Die Toyota Dream Car kunskompetisie bestaan al vir ’n aansienlike aantal jare en sy evolusie is duidelik. As ons kyk na die wenners oor al die ouderdomsgroepe, is dit ’n bewys dat innovasie binne die motorbedryf ’n nuwe kurwe toon en die toekoms lyk al hoe helderder,” het Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking vir TSAM, gesê.

Riley se droomkar is die “Toyota Octopus Car” – ’n oranje, vlieënde Toyota Cross.

Tatum se “Bubble in Water” is ’n kar wat onderwater kan beweeg sonder om te lek en met meer as genoeg suurstof.

Die top vyf in elk van die drie kategorieë het elk met ’n prys weggestap. Vyfde plek wenners het ’n geskenkbewys van R2 000 ontvang; vir die vierde plek wenners was dit ’n Samsung Tablet ter waarde van R3 000; derde plek wenners het ’n HP skootrekenaar ter waarde van R5 000 gewen; ’n Xbox One ter waarde van R7 000 is oorhandig aan tweede plek wenners; en die toppresteerders het elk ’n PS5 ter waarde van R15 000, sowel as ’n WRC Game, ontvang.

“Ek wil graag ’n hartlike dankie uitspreek aan al die ouers, onderwysers en ons handelaarsnetwerk wat onvermoeid hierdie kompetisie ondersteun het deur jong leerders aan te moedig om hul kreatiewe stukke in te dien. Ons het almal ’n gedeelde visie dat die toekoms van mobiliteit binne die motorsektor in die hande van hierdie generasie van spelveranderaars lê,” het Crompton bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article