DIE enigste “Tiere” wat vanjaar by die uitmergelende TransBaviaans-bergfietswedren in aksie te sien was, was twee van HTS Daniel Pienaar se onderwysers.
Dié Tiere-span het hul kollegas en leerders geinspireer nadat hul dié taai 2021 TransBaviaans binne 15 ure kafgetrap het.
Die TransBaviaans word beskou as een van die taaiste enkelfase bergfietswedrenne in die wêreld. Paul Els (61) en Nokkie Strydom (59) sê vanjaar se wedren was veral taai weens die koue en nat weersomstandighede. Die temperatuur het – 3°C tydens die wegspring op Willowmore gemeet
Die TransBaviaans se afstand van 230 km was vir ses jaar die langste enkelfase berg-fietswedren in die wêreld. Die afstand strek vanaf Willowmore, deur die Baviaans en eindig op Jeffreysbaai. Dit is ‘n spanwedren (vir twee, drie of vier fietsryers) en spanlede moet saamwerk om georiënteerd te bly, want die hele roete is ongemerk en deelnemers trap deur die nag.
Nokkie sê hy was goed voorbereid en daarom was vanjaar se TransBaviaans relatief maklik vir hom, behalwe “Die laaste ses kilometer enkelspoor wat tegnies en baie modderig was.”
Vir Paul was dit ietwat taaier. “Ek het bietjie laat met my voorbereiding begin. Daardie tweede laaste been se 25 km van geleidelike opdraende het my bene gekou.”
Dit was Paul se negende TransBaviaans en ter voorbereiding het hy sowat 650km in Augustus getrap en voor dit ‘n gemiddeld van 60km per week.
“Met my eerste TransBaviaans in 2010 was Nokkie ook my spanmaat. Dit was ‘n belewenis, want Nokkie is ‘n boerseun uit die Baviaans en sy stories en uitwys van plekke waar hulle geboer het en waar hy skoolgegaan het, het die pad kort gemaak.”
Nokkie het vanjaar by die prysuitdeling ‘n skild ontvang omdat dit sy vyfde TransBaviaans was wat hy met sukses voltooi het. Dit was egter so hittete of hy het nie dié prestasie geniet nie want … “By ‘n spruit, toevallig op die plaas waar ek grootgeword het, het ek die spoor byster geraak en met fiets en al in die water beland sodat net my kop uitgesteek het.
“Dit was ‘n geval van lekker lag en daarna moes ons aanstoot, want ek moes myself droog ry.”
Beide dié taai Tiere reken fietsry is ‘n belegging in goeie gesondheid en ‘n lekker avontuurlustige wyse waarop ‘n mens van jou energie sowel as frustrasies ontslae kan raak.



