“Sien jy wat ek sien? Daar is twee kolletjies. Dit beteken dit is ’n tweeling . . . ”
Dit was Wilma Knox se reaksie aan haar man Andrew, 18 jaar gelede tydens haar eerste swangerskap toe ’n sonar op haar gedoen is.
“Toe ek Christian en Jonathan die eerste keer ná hulle geboorte sien, het ek gewonder hoe op aarde gaan ek twee babas gelyk grootmaak?”
Dit is duidelik dat Andrew en Wilma en nog ’n paar grootmaakhande ’n goeie span was met die grootmaak van die tweeling wat nou amper klaar is met matriek.
Alhoewel die twee se persoonlikhede uiteenlopend is, beplan beide om volgende jaar inligtingstegnologie (IT) te studeer.
“Hulle was regtig twee baie gehoorsame en gemaklike seuns om groot te maak. Hulle is onafskeidbaar en wanneer ek hulle gesoek het, het ek net my eie soort harde fluit gegee en toe het hulle aangehardloop gekom.”
Christian en Jonathan was voorskool by Karnallie Speelskool en daarna by Laerskool Frans Conradie voordat hulle hul hoërskoolloopbane by Hoërskool Despatch begin het. Op laerskool het hulle skaak, tennis, krieket en rugby gespeel.
“Vir ’n o.9-rugbywedstryd het hulle saamgesweer om vir mekaar die bal te gee en het toe so ’n pragdrie gedruk. So het hulle regdeur hul grootword- jare saamgespan om sukses te behaal.”
In hul hoërskoolloopbane het die Knox-tweeling vir hul skool se hokkie en krieket eerste spanne gespeel.
Christian sê, “Dit is ’n groot voorreg en lekker om een van ’n tweeling te wees. Dis uniek, veral oor die feit dat ons nie identies is nie. Dis ook lekker om met mekaar dinge te deel omdat ons soveel goed saam ervaar.”
Op sy beurt sê Jonathan dat dit vir hom lekker is om alles saam met sy tweelingbroer te doen. “Die lekkerste is dat hy my kan help met enigiets waarmee ek dalk sou sukkel. Al is ons ’n tweeling, het ons verskillende talente en persoonlikhede.”
Wilma sê dit is so lekker om die twee saam te hoor lag en dat sy en Andrew stokperdjies sal moet kry as die tweeling eendag hulle vlerke sprei en die huis verlaat.
Die Knox-egpaar se raad aan ouers wat ’n tweeling verwag is: “Hou altyd die Here eerste in julle lewens. Wees regverdig en streng, laat julle nee, nee wees en ja . . . ja. Wees ferm, dog regverdig en bo alles moet liefde seëvier.”





