’n GROEP studente het verlede week hul ses-maande kursus in tuisversorging voltooi en is nou gereed om verswaktes en bejaardes tuis te versorg.
Die kursus is by ACVV Aandmymering tehuis vir senior persone aangebied onder leiding van suster Catrien Marais. Sy het nou uitgetree en word opgevolg deur suster Caroline Fletcher. Die groep van nege tuisversorgers het verlede Vrydag hul sertifikate ontvang en is nou gereed om in die gemeenskap van diens te wees.
Tuisversorgers vervul ’n belangrike rol in die lewe van bejaardes wat ver-kies om in die veiligheid en gemak van hul eie wonings versorging te ontvang. Hulle help ook persone met Alzheimersiekte of demensie wat nog in hul eie woonplekke is.
Tuisversorgers se besoeke hang af van individue se behoeftes en toestand. Die minimum tydperk is 5 ure per dag en hul verskaf ook 24 uur versorging.
- Mense wat belangstel om in te skryf vir die kursus of meer wil uitvind oor tuisversorgers kan Amanda Croukamp bel by 041 992 1510.



