DIE OP-bofballegende Michael Moore het sy seën uitgespreek oor die toekoms van die sport na die vorige naweek se suksesvolle o.10 All Stars-uitdaag reeks op die Londtpark-veld in die Baai.
“Julle afrigters doen ’n fantastiese werk deur ons jong spelers te ontwikkel. Julle is op die regte pad om die sport weer sy gloriejare te laat herleef. Hou so aan,” sê hy.
Moore verwys hier na Terrence Gouws van Kariega en Lionel Robson van die Baai, wat baie tyd aan afrigting spandeer.
Die eindstryd is deur die grootste aantal toeskouers in jare bygewoon, insluitend die oud-Springbokke Leon van der Nest en Pietie Carlson.
Volgens Moore gaan die werk wat Gouws, Robson en hulle helpers nou onder die jeug op grondvlak doen, vorentoe vrugte afwerp en dit voorspel goed vir bofbal se toekoms in die OP. Gouws sê dat die spel deurlopend van hoë gehalte was en dat bofbal die groot wenner op die dag was. “Nou wil die mannetjies net speel en nogmaals speel. Dis asof hulle skielik nie genoeg van die sport kan kry nie, en talle nuwes wil ook voortaan saam kom kolf swaai,” sê hy.
Gouws se Geel-span het die eindstryd met 15-7 teen Robson se Rooi-span gewen. Gouws en Robson, albei veterane oor baie jare, sal die OP-span as afrigters na die Kaap vergesel. Die Gouws-familie is reeds jare lank bekend in die sport en die hartklop van bofbal op Kariega, terwyl die Robsons ook diep spore getrap het.
Gouws sê hy het ’n goeie idee hoe die OP-span vir volgende jaar se interprovinsiale toernooi in April in die Kaap sal lyk. Levi Thorne is die vroeë gunsteling om as kaptein aangewys te word, terwyl Chad Robson, Logan Geldenhuys, Jason Moore, Cairo Fraser, Troy Gouws, Jodian Fortain, en Alek Gerber ook aanspraakmakers is om in die span ingesluit te word.
Gouws en Robson sal die OP-span as afrigters na die Kaap vergesel.
Die OP het oor die jare Springbokke soos Leon van der Nest, Joggie en Pietie Carlson, Buddy Niemand en Luther Landman opgelewer, en Gouws, Robson en hulle helpers het dalk nou net die saadjie geplant vir die OP se toekomstige Proteas.





