Hier is die ton kos wat TikTokkers aan die Uitenhage & Distrik DBV geskenk het. Van links is Sheldon Gentle, Tyza Bani, Christelle Erasmus, Claudia Adams, Clarissa van Deventer, Edwin Moyi en Thandile Plaatjies.

Foto: Heilie Combrinck

‘n Tiktokker van Kariega het die monde laat oophang toe sy met duisende rande wat sy binne ‘n week ingesamel het deur die regstreekse TikTok selfoon-toepassing, ‘n ton nie-bederfbare kosse vir die Uitenhage & Distrik Dierebeskermingsvereniging (DBV) gekoop het.

Claudia Adams se hoogs geslaagde TikTok Regstreeks (Live) geldinsamelingspoging vir die plaaslike dierebeskermingsvereniging, laat ‘n mens wonder of die dae van geldinsameling deur lootjies, pannekoek, worsrolletjies of lang ure se staan en blikskud verby is. Tog behels ‘n geslaagde geldinsamelingspoging op TikTok Regstreeks dieselfde soort inspanning as ure se pannekoekbak of blikkie skud. Claudia verduidelik:

“Dit is baie harde werk om volgergetalle te laat groei en skenkings te laat inrol. Ek is moeg, kyk hoe lyk ek nadat ek 24/7 regstreeks op TikTok gewoeker het om geld in te samel vir ons DBV. Maar, dit is alles die moeite werd en lekker om te kan help waar daar groot nood is,” sê Claudia.

“Ons is ‘n klomp pelle op TikTik Regstreeks wat onsself The True Legends noem en geld insamel om te help waar ons kan. My profiel is Claudia The True Legend.

“Baie dankie aan my True Legend-pelle en al die ander TikTokkers, waarvan die meeste van ander lande is met my grootste skenker uit Australië, vir hulle blessings en ondersteuning.”

@claudia_thetrue_legend Thank you so much for all the support! @fourie_jj_thetrue_legend #animals #southafrica #spca #dbv #food #helpinghand #proud ? Happiest Year – Jaymes Young

Claudia verduidelik dat TikTok Regstreeks ‘n kortvideo sosiale netwerk is wat as ‘n soort moniteringsplatform dien waarop jy lewendig stroom, hetsy om gewildheid van ‘n produk of jouself op te jaag of om geld in te samel vir liefdadigheid. Om geld te begin verdien op TikTok Regstreeks, moet jy ten minste 1 000 volgers hê.

“TikTok Regstreeks raak ‘n al hoe meer gewilde manier om geld te verdien. Jy bou jou profiel en lok volgers wat vir jou geskenke (gifts) stuur wat met virtuele muntstukke op die platform gekoop word. Dié geskenke word omgesit in ‘diamante’ met Amerikaanse dollar-waarde wat in ‘n fondsmandjie beland. Dit word dan deur PayPal omgeskakel na Suid-Afrikaanse Rand en in jou rekening betaal,” verduidelik Claudia.

Christelle Erasmus, Uitenhage & Distrik DBV se ondervoorsitter was verstom oor die hoeveelheid geld wat Claudia binne ‘n week op dié TikTok netwerk ingesamel het.

“My mond hang oop. Dit is die eerste keer dat geld op so ‘n wyse ingesamel en ‘n kosskenking aan die DBV gedoen is. Baie, baie dankie, Claudia … jy het soveel van jouself en jou tyd gegee om hierdie baie nodige kosskenking aan die DBV moontlik te maak.”

Claudia, ‘n gesoute TikTok-beïnvloeder, kry deesdae baie versoeke. “So baie wildvreemde mense vra dat ek moet help om geld in te samel vir ander liefdadigheidsprojekte of veral vir kinders wat baie siek is.

“Al hierdie hartseergevalle vat aan ‘n mens. Vir eers wil ek ‘n TikTok-breek vat om net weer my energievlakke terug te kry, dan sal ek weer inspring en help.

“‘n Mens raak verslaaf aan die adrenalien wanneer die gifts inrol en jy wéét dit is groot geld. Dis ‘n ongelooflike lekker gevoel, veral as jy ‘n ander daarmee kan bless.”

TikTok Regstreeks het ‘n top 100-ranglys van deelnemers in Afrika en Claudia The True Legend het met haar DBV projek ‘n agtste posisie beklee.

Vingers Jonker van Auto Works word bedank vir die beskikbaarstelling van ‘n voertuig om die ton kos by die Uitenhage & Distrik DBV te kon aflaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article