TE midde van 2020 se koue COVID-19 winter, het HTS Daniel Pienaar met ’n prettige plan vorendag gekom om almal se gemoedere te help lig.
Die plan?
’n Durban July-perdewedren sónder perde. Tog was die deelnemende leerlinge wel jokkies en het omtrent spoed laat praat toe hulle straf teen mekaar meege-ding het.
Die perde?
’n Swemnoedel!
Só ’n sonderlinge gebeurtenis moet in ware Durban July-styl gevier word, het die onderwysers besluit en hulle as toeskouers behoorlik opgetof vir dié Tiere-July.
Al dié aksie het verlede week op die skool se nuutomheinde A-sportveld plaasgevind.
Heel gepas het die Suid-Afrikaanse Polisie se berede-eenheid opgedaag om ekstra luister aan die pretge-leentheid te gee.
Om die jokkies (ses van DP se vinnigste jongmanne) op hul versierde swemnoedel-perde uit hul wegspringhokke te kry, het adjunkhoof Koenie Strumpher, die skool se ou koper-skoolklok gelui.
Seremoniemeester Arno Els het die “perde” en “jokkies” se vordering op ’n professionele wyse uitgesaai, terwyl die res van die leerlinge hul “jokkie-maats” aangemoedig het.
Dit het plaasgevind onder toesig van onderwysers en daar is streng by die COVID-19 veiligheidsmaatreëls gehou.
“Baie geluk aan Wernich van Rensburg, ons 2020 Tiere-July wenner op sy perd Silver Banjo,” sê skoolhoof Kola du Toit, wat na afloop van die “perdewedren” ’n goue trofee aan hom oorhandig het.
Die vyf ander jokkies was Darrion Edwards (op sy Little Snowflake swembadnoedel-perd), Sheldon Venter (Dynamic Boogie), Qhama Blouw (Driving McGee), Luyolo Dambuza (Moonlight Thunder) en Marzanno Seekoei (Adorable Mashed Potatoes).
Die polisie se berede-eenheid het van die geleentheid gebruik gemaak om die Tiere in te lig oor die werksaamhede van die eenheid en die prosesse om te volg om vir die eenheid gekeur te word.
Du Toit sê die Tiere-July is ’n nuwe instelling by die skool, “maar een wat ons hoop sal bly. Volgende jaar wil ons ’n paar buurskole oornooi. Ook sommer ’n Mnr. en Mej. Tiere-July kies en die kinders spoggerig te laat aantrek.”


