Brandwag se stut Rémy Heymans,met die bal, kyk Daniel Pienaar se plaasvervanger agterspeler, Rozario Grootboom, ’n oomblik in die oë voor die plettervat wat daarop volg tydens die twee skole se jaarlikse Classic Clash-kragmeting.

Foto: Karen Pienaar

Die Tiere van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar het vanjaar die bordjies verhang deur die Hoërskool Brandwag 20-13 op die rugbyveld te klop.

Die jaarlikse rugbykragmeting tussen die twee skole, wat ook die FNB Classic Clash is, lok altyd groot belangstelling in Kariega. Vanjaar se kragmeting het by Brandwag plaasgevind en teen afskoptyd was daar byna nie eens staanplek oor nie. Massas ondersteuners van albei spanne het op die veld en pawiljoene saamgedrom. Ondersteuners het hul onderskeie spanne luidkeels aangemoedig en ’n spannende wedstryd het verder tot ’n atmosfeer van pure opwinding bygedra.

Die laaste keer dat Daniel Pienaar die Classic Clash gewen het, was in 2012. Verlede Saterdag het die Tiere se eerste span egter puik gespeel en soos yster verdedig vir ’n welverdiende oorwinning.

Brandwag het die eerste punte met ’n strafskop aangeteken, maar die Tiere het kort daarna ’n drie gedruk en daarna nie hulle houvas op die wedstryd verslap nie.

Daniel Pienaar het drie drieë gedruk teenoor Brandwag se twee. Vir Daniel Pienaar het heelagter St Claire Myburgh, stut Keanu Barnard en flank De Wet Fourie drieë gedruk, terwyl losskakel Ikombe Tyatya een verdoelskop en een strafskop aangeteken het. Vir Brandwag het skrumskakel Lu-Crain Muggels met een strafskop geslaag en die drieë is deur Jamiane Dampies en Philip Kapp gedruk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article