DIT is met groot hartseer dat HTS Daniel Pienaar en die gemeenskap moes verneem dat Larisca Radue, matriekleerder van dié skool, in die vroeë oggendure van 10 Desember aan orgaanversaking in die Grootte Schuur oorlede is waar sy op die noodlys vir ‘n longoorplanting gehospitaliseer was.
Daniel Pienaar berig dat Larisca werklik ‘n voorbeeld vir leerders was. Sy sal onthou word as ‘n baie dapper meisie wat skool toe gekom het, winter of somer – selfs wanneer haar siektetoestand, sistiese fibrose, veroorsaak het dat sy gekoppel aan ‘n suurstoftenkie moes beweeg.
Toe trappeklim vir haar moeilik geraak het, het sy by ‘n onderwyseres in die klas bly sit. DP se onderwysers het dan haar werk vir haar gestuur en in hul vrye tyd gehelp om te verhoed dat sy nie agter raak nie.
Koenie Strumpher, waarnemende skoolhoof, sê dat Larisca ’n saggeaarde en liefdevolle leerder was met ’n uitstekende sin vir humor en dat sy in die Tiere se harte gekruip het.
Hoewel Larisca se gesondheid swak was, het sy altyd gepoog om deel van die skool se aktiwiteite te wees. So was sy saam met die Interact en hoofleiers van DP tydens hul laaste besoek aan Aandmymeringouetehuis.
Toe DP as ’n groep gestap het na die roudiens van wyle Sampie Marais, het Larisca, wat te swak was om te stap, haar pa Craig Radue versoek om met die motor agter die leerders aan te ry vir haar laaste eerbetoon aan “Meneer Marais”, die Tiere se ontslape skoolhoof.
Larisca se toestand het ná die Septembereksamen ernstig verswak tot só ‘n mate dat sy in die hospitaal was ten tye van haar matriek- afskeid.
Livingstone Hospitaal het haar matriekdroom help verwesenlik toe hulle ‘n afskeid vir haar gereël het. Sy het ook in haar ligpers aandrok, steeds gekoppel aan haar suurstoftenk, die DP-personeel gaan verras.
Direk hierna is sy na die Grootte Schuur ge-neem ter voorbereiding van die longoorplanting. Ongelukkig kon hierdie oorplanting nie gou genoeg geskied om Larisca se lewe te red nie.
Larisca laat haar pa, Craig Radue, haar broer Brendin en sussie Tami agter.
Daniel Pienaar onthou Larisca as ‘n meisie met ‘n pragtige hart wat ook altyd haar klein Bybeltjie by haar gedra het en graag kerk toe gegaan het en glo sy rus nou in vrede.
- Larisca se roudiens word môre om 14:00 in Daniel Pienaar se skoolsaal gehou.




