DIE Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar glimlag breed na die onlangse FNB Classic Clash-oorwinning teen die Hoërskool Brandwag.
Daniel Pienaar het sterk begin, hul veggees was opmerklik en hul skrums veral kragtig.
Na halftyd was daar egter ’n momentumswaai en die Brandwag het begin oorheers. Hul lynstaanrolmaalbewegings was uitstekend.
Die Tiere se verdediging kon egter die aanvalle stuit.
Daniel Pienaar se drieë is deur Juan van Zyl, Byron Chamberlain en Mauriano Pillay gedruk. Die Speler van die Wedstryd was Ntsako Maimela wat in die vaste losgemaal beïndruk het. Hy het ook baie bal gedra en dikwels meters vir sy span gewen.
Deurentyd is elke toeskouer vasgenael gehou omdat dit inderdaad ’n weegskaalwedstryd was. Die Tiere kon egter koelkop bly en in die laaste minute het Ikombe Tyatya ’n strafskop oorgesit wat die wedstryd in Daniel Pienaar se guns laat eindig het (26-25).
Afrigter Dawie Human het na die wedstryd die span geprys vir die feit dat hulle onder druk kon staan en ’n gemiddelde seisoen op ’n hoë noot kon afsluit. Hy het ook lof gebring aan sy mede-afrigter, Werner Kapp, en ander lede van die afrigtingspan asook sportbestuur en alle ondersteuners.
Die groot getal ondersteuners van beide skole en die gees wat geheers het, het weereens bewys dat die FNB Classic tussen die twee skole ’n groot hoogtepunt op die rugbykalender is en die hele gemeenskap groot plesier verskaf.





