“EK is dankbaar vir elke oomblik wat ek my voete op ’n netbalbaan kan sit. Maak nie saak hoe groot die toernooi of watter skeidsregter-rokkie ek moet aantrek nie.”
Só sê een van Suid-Afrika se min internasionale netbalskeidsregters, Theresa Prince van Despatch, wat onlangs by die Kaapstadse internasionale konferensiesentrum, die SPAR Drienasies uitdagingsbeker-toernooi se finaal tussen die SPAR Proteas en Uganda She Cranes geblaas het.
Dit was ’n eerste vir Theresa om vir ’n Protea-span te blaas en dit was moontlik “danksy” COVID-19 se uitdagings.
“In normale omstandighede is die skeidsregters neutraal, maar omdat internasionale skeidsregters weens COVID-19 nie na Suid-Afrika kon reis nie, was ons Suid-Afrikaanse skeidsregters deur die Internasionale Netbal-federasie toegelaat om as nie-neutrale skeidsregters op te tree in ranglys-wedstryde,” se Theresa.
Suid-Afrika se SPAR Proteas was die uiteindelike wenners en het Uganda She Cranes met 44-32 geklop. Dit was die SPAR Proteas se sesde keer dat hulle dié Drienasies gewen het. Namibië se Debmarine Desert Jewels was in die derde plek.
Vir lank was daar geen netbalwedstryde nie en vir beide die spelers sowel as skeidsregters was dit opwindend om weer op die baan te kon kom.
“Dit is en gaan altyd vir my oor die sport wat ek baie liefhet. Die geleentheid om die beste uit die spelers op die baan te kry wanneer ek ’n wedstryd hanteer. Ek was baie geseënd om in ’n bio-bubble verlede jaar ons nasionale Telkom-kompetisie te kon blaas asook in Desember ons Suid-Afrikaanse Netbalkampioenskappe wat ook in ’n bio-bubble gehou was op Bela-Bela.”
Theresa sê elke toernooi het sy eie gees en dit is wat toernooie so spesiaal en uniek maak.
“As skeidsregter moet jy elke keer net jou beste gee, want jy word op elke toets wat jy blaas deur assessors van die Internasionale Netbal-federasie gekrit.”
Buiten om by topvlak-wedstryde op te tree, is Theresa ook die afrigter van Hoërskool Despatch se eerste-netbalspan.
“Ek gryp altyd die geleentheid aan om saam met die spelers te oefen, veral om Crossfit te doen. Wie hou nou nie van ’n uitdaging tussen spelers en ’n afrigter nie! Padslaan is nooit lekker nie, maar dit is die beste manier vir my om my fiksheidsvlakke goed te hou.”
Wat toekomstige optredes as skeidsregter betref sê Theresa die uitnodigings is skaars weens die wêreldwye pandemie wat reis inperk. Die opkomende toernooie waaroor sy wel opgewonde na uitsien is die Statebondspele in 2022 en natuurlik die Wêreldbeker Netbalkampioenskap wat in 2023 in Kaapstad gehou gaan word.




