The Invaders doen dit toe wéér.
Byna sestig jaar sedert hul stigting, het dié super-gewilde musiekgroep van Kariega nou die DAK Netwerk-eretoekenning vir baanbrekerwerk in pop-musiek ontvang.
The Invaders het vroeër jare ’n ongekende en ongeëwenaarde impak op die destydse musiekbedryf, nie net in Suidelike Afrika nie, maar ook in Europa, gehad. Hulle het geskiedenis gemaak toe drie van hul langspeelplate binne een jaar goueplaat-toekennings ontvang het vir uitstekende verkope.
Die DAK-eretoekenning is onlangs onder meer aan Errol Gobey (78) en Joe Moses (74), twee van die oorspronklike lede van The Invaders, oorhandig. Die ander twee oorspronklike lede, Johnny Burke en Dave Burke, se naasbestaandes het hul toekennings ontvang.
‘n Hele paar ander musikante soos Lionel Petersen, Claude Palmer, Rodger “Spewy” Pillay en Noel Mitchell wat deur die jare ook deel van The Invaders was, is ook vereer. Dié gala-aand is in Belhar gehou met dr. Allan Boesak as die gasspreker.
“Mense praat nou nog van The Invaders en die groot bydrae wat hulle gelewer het tot populêre musiek in ons gemeenskappe,” sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk
“The Invaders se eerste Afrikaanse treffer, ‘June’, is vernoem na die eerste kleinkind van die Burke-familie. Sy was ook by die gala-geleentheid en daar is ook aan haar erkenning gegee.”
Joe Moses was die enigste van die The Invaders wat die gala in Belhar bygewoon het. Hy het gaste vermaak deur van die musiekgroep se treffers soos “Shockwave”, “June”, “Ice Cream and Suckers” en “Cream Cheese and Crackers” te speel.
Van Wyk sê: “Dit was soos ’n memory trip vir die gaste. The Invaders se musiek het hulle laat verlang na die goeie ou dae. As dit ’n konsert was, sou ons vir seker al die kaartjies uitverkoop het.”
Al het die jare intussen aangestap, was dit vir Moses goeie herinneringe aan sy jong dae toe hulle die skare aan hulle voete gehad het.
“Jôh, die mense was mal oor ons musiek. Die vroumense het geskree en partykeer het hulle sommer hulle panties op die verhoog gegooi.”
Errol Gobey sê hulle het begin met blikkitare en het hul eie musiekstyl gehad. “Dit was ‘n kwela-styl en die mense was mal daaroor. Maak nie saak waar ons gaan speel het nie, die sale was vol. Ons musiek het die mense laat goed voel, dit was baie goeie tye.”
The Invaders het ontstaan ’n ruk nadat Johnny Burke in 1961 ’n konsert van Cliff Richards en The Shadows in die Veremarksaal gaan kyk het. Hy het eers met The Astronauts begin, maar dié groep het gou opgebreek en daarna het The Invaders die lig gesien met Johnny Burke (baskitaar), Errol Gobey (ritmiese kitaar), Dave Burke (dromme) en Joe Moses (kitaar).
Hulle het altesaam 28 kortspeelplate en agt langspeelplate opgeneem. Later jare het Gallo ‘n dubbelalbum CD “The Heart & Soul of The Invaders” opgeneem en landwyd uitgereik. Hulle het internasionaal gewildheid geniet en selfs in Europa getoer. Die groep het in 1971 opgebreek.
Van Wyk sê die plan is nou om ook ’n standbeeld van dié bekende musikante op Kariega op te rig.
“The Invaders is deel van ons erfenis. Hulle verdien om deur ’n standbeeld op hul tuisdorp gehuldig te word.”
Oor die moontlikheid van so ’n standbeeld het Errol bewoë geraak en gesê, “ dit sal ’n groot eer wees. Nie net vir ons nie, maar ook vir ons nageslagte.”





