’n Groot dankie het uitgegaan aan die gemeenskap van die Heymans-familie vir die ongelooflike ondersteuning van Taylor se deurry-partytjie.
Sy het op 30 Oktober haar 24ste verjaarsdag gevier.
UD Express het vroeër berig dat Taylor al jare lank droom om haar naam en foto in die koerante te sien.
Die Heymans het almal wat sou belangstel genooi om ’n draai te maak by die deurry-partytjie en ’n klein geskenkie af te laai of selfs net met verjaarsdagwense vir Taylor in ruil vir ’n kolwyntjie en ’n verdere verrassing.
Taylor was nie juis kieskeurig oor die tipe geskenkies nie maar het van haar belange en wense gedeel, inslui-tend dat sy besig was om te spaar vir ’n nuwe selfoon.
Volgens haar ma, Zuska, was die geleentheid ’n reuse-sukses. Taylor het 243 geskenke en R5 780 in kontant ontvang. Sy het Saterdag haar nuwe selfoon gaan koop.
“Dit is wat sy baie graag wou gehad het. Dit was net asemrowend hoe die mense haar gelukkig gemaak het. Dit was net ’n wonderlike dag gewees,” het Zuska vertel.
Sy het verder vertel dat ouer mensies, gesinne met klein kinders, skoolhoofde en selfs haar predikant ook deel van die dag was. En een van die hoogtepunte was ’n besoek van Dano Swart, ’n bekende van Kariega, en sy ouers.
Nog ’n spesiale besoek was van die verpleegsters wat in die intensiewesorgeenheid gewerk het toe Taylor as baba in die hospitaal was.
“Ons wil aan elke persoon wat die moeite gedoen het om ’n tydjie in hulle besige lewens te maak om net ’n oomblik aan haar te spandeer en te wys hulle gee om, dankie sê,” sê Zuska.
“Die omgee in die wêreld het vir my so baie beteken. Ek will ook graag ’n spesiale dankie sê vir Pieter en Mari-lize van Wild Rapids Spur op Kariega en Kenneth Botha vir hulle ondersteuning, en Natalie wat die balonne gedoen het.”





