Rosedale swembad sal nadat dit vir meer as drie jaar gesluit was op 1 Desember weer oopgestel word. Dit is hoofsaaklik te dankie aan ’n gemeenskaps-taakspan se ywer. Hier is van die taakspanlede (van links) Ron Burness, Johannes Swartbooi, Hessie Human, Elroy Ward en Natasha van Heerden. Foto:HEILIE COMBRINCK


SNIKHETE somertemperature wat die kwik tot 42 grade opgejaag en kinders vir lafenis in die besoedelde Willowdam laat swem het, was die dryf vir ’n groep Rosedale-inwoners om dié woonbuurt se swembad weer oopgestel te kry.

“Ons sien uit om op 1 Desember die swembad weer amptelik oop te stel vir ons woon-buurt se kinders en mense. Dit was eens ’n gesellige plek waar kinders in ’n veilige omgewing kon baljaar. Ons wil dit weer so hê,” sê Elroy Ward, een van die agt taakspanlede wat hul beywer het om die swembad weer in gebruik te kry.

Die Rosedale-swembad, ’n olimpiese standaard swembad wat oor twee addisionele vlak kinderswempoele beskik, was die afge-lope drie jaar dolleeg en gesluit vir die publiek.

’n Gemeenskapsvergadering is Januarie vanjaar gehou oor die Hoogstraat-swembad, wat al ’n jaar gesluit is en die Rosedale-swembad, wat die afgelope drie jaar toe was.

“’n Handjievol mense het opgedaag. Mense praat mos graag, maar as hulle betrokke moet raak is hul stil. Maar dit het ons nie te-ruggehou nie. ’n Taakspan is saamgestel om die Rosedale-swembad weer oop te kry,” sê Hessie Human.

“Ons mense ry verby hierdie swembad Baai toe om daar te gaan swem. Dit is mos nie reg nie.”

Volgens haar het hulle ’n baie sterk motivering gehad oor hoekom die swembad weer in gebruik moet kom.

“Ons is Charmaine Williams direkteur van sport en rekreasie en hoofuitvoerende beampte Ndileka Leqela, sowel as Steven Mazantsi, opsigter en lewensredder ewig dankbaar vir hulle dryf en aandeel om die swembad weer oop te kry,” sê Human.

Die teels in die middel van die swembad was stukkend en is oorgedoen. Die twee vlak kinderpoele, waarvan een toegegooi was met grond, is heeltemal oorgedoen. Die ablusie-fasiliteite, kantoor en ingang is in die proses om opgeknap te word, sowel as die heining.

Ron Burness, nog ’n lid van die taakspan, wie se broers lede van die Dolphin swemklub was, wat vroeëer baie bedrywig was by dié swembad, sê: “Dit is ’n voorreg dat die swembad nou weer oop gaan wees. Veral vir ons kinders is swem baie goeie oefening en ontspanning en dit sal die kinders uit die strate hou.”

Volgens Ward was baie inwoners warm onder die kraag oor die toestand van die swembad.

“Ons het dit reggekry om die swembad en fasiliteite weer oop te kry sonder om te toyi-toyi. Sonder om tyres te brand. Sonder om enigiets af te breek.

“Ons het dit aan die gemeenskap duidelik gemaak dat daar geen logika is om ’n fasiliteit wat ons môre nodig het, vandag af te breek omdat mense ongelukkig is nie,” sê Ward.

Met die amptelike opening op Sondag, 1 Desember, sal streng sekuriteit ter wille van veiligheid gehandhaaf word. Benewens die lede van die polisie, metro-polisie en gemeenskapspolisiëringforum sal agt lewensredders ook aan diens wees.

Van die ere-gaste sal onder meer die Basson-broers Alaric en Alain, beide Suid-Afrikaanse swemkampioene, sowel as die internasionale swemafrigter en plaaslike swemlegende Nigel Hendricks daar wees.

“Ek gaan baie beslis ook in die swembad wees. Ek wil baie graag saam met my kleinkind in die water baljaar,” sê Ward.

Volgens Human wil die taakspan ook swem weer as ’n buitemuurse aktiwiteit by skole bevorder en toesien dat die Learn to Swim program daar ingestel word.

  • Toegang na die amptelike heropening van die Rosedale-swembad gaan op 1 Desember gratis wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article