“Hy is ’n kans gegee en hy maak die beste daarvan.”
So het Clyde Scott gesê van Dewin Jaftha, ’n oud-leerder van Sunshine Spesiale Skool en ’n lid van die Working on Fire-span wat op 8 September die skool besoek het.
Dewin het ’n boodskap van hoop vir die leerders gebring en hulle aangemoedig om nie moed op te gee vir die lewe ná skool nie – want dit is nog lank nie die einde nie.
“Ek het ook hier skool gegaan. Die skool het my baie geleer. Julle sien waar ek nou is. Moenie dink as jy klaar is met skool, jy is sommer klaar met die lewe ook nie. Moenie dink jy het niks om te doen of jy kan niks doen nie. Jy kan iets doen in die lewe. Moenie te hard dink oor die dinge wat jy graag wil doen nie; doen dit net.”
Dewin se laaste jaar by Sunshine Spesiale Skool was in 2019, net voor die COVID-pandemie Suid-Afrika getref het.
Ná skool het Dewin by Scott gaan bly op die reservaat en daar sy hande besig gehou en uit die moeilikheid gebly.
Working on Fire het ’n basis op die reservaat en Scott het hulle gevra om vir Dewin ’n kans te gee om deel van hulle te word.
“Ek het vir hom gesê: Ek sal vir jou gaan praat, maar jy moet die harde werk doen. Hy het begin oefen, pull-ups en push-ups gedoen, gaan hardloop in die aande. Hy het dit op meriete gekry en dit is wat ons wou hê. Hy het homself bewys,” het Scott gespog.
Dewin se spanleier het gesê daar was 20 individue wat vir sewe posisies op die span moes kompeteer toe Dewin ingeskryf het.
“Dewin was een wat uitgeblink het. Ek was so trots toe ek hoor hy staan tweede in sy groep op die einde van die dag. Hy het in die hoë 90s vir sy toetse gekry,” het hy vertel.
Die nuwe lede is eers deur die opleiding gevat, gewys wat van hulle verwag sal word, voordat hulle na Calitzdorp gestuur is vir ’n maand se opleiding. Dis hier waar Dewin in teorie en fiksheid uitgeblink het.
Volgens Scott is fiksheid is aan die orde van die dag vir Working on Fire.
Hulle oefen elke dag en moet 40 pull-ups en push-ups per minuut kan doen en 2.4km kan hardloop binne 12 minute.
“Ek geniet dit baie. Vir my is hardloop nie ’n probleem nie, want ek het dit op skool gedoen. Ek het atletiek en fun runs gedoen en dit geniet. Die training, toe ek begin het, was moeilik. Ons het geleer hoe om push-ups te doen en dit het ek nooit tevore gedoen nie. Ek het baie geleer. Ek sê baie dankie vir my spanleiers. Dis hulle wat my motiveer het om deur te druk,” het Dewin gesê.
Dewin het ná sy opleiding ook weggestap met sy geelkaart. Dit beteken, in juffrou Maronize Groepe se woorde, dat “as Dewin wil aansoek doen om vure te gaan doodslaan in Kanada, dan kwalifiseer hy onmiddelik.”
Sy spanmaats het ook net goeie dinge van Dewin te sê en beskryf hom as baie gedissiplineerd.
“Ek mis die skool, die mense. Dit was baie lekker om hier skool te gaan. Vir die toekoms: Ek is nie haastig nie. Ek is gelukkig waar ek nou is. Een dag op ’n slag. Al wat ek kan sê is baie dankie vir als wat die skool my geleer het,” het Dewin gesê.
Scott het ook die Sunshine-leerders aangemoedig om deur te druk en vir hulleself ’n toekoms te bou.
“Almal wat iets wil bekom, kan dit bereik. Dewin was ook hier gewees, ook ’n moelike kind. Maar kinders het net ’n kans in die lewe nodig. Ons bied hulle dit aan, maar hulle moet self besluit dit is wat hulle wil doen,” het hy gesê.
“Namens Working on Fire en Nelson Mandela Metro natuurbewaring sê ons baie dankie vir hieride uitnodiging. Die idee is om veral vir die kinders te bewys dat hulle die potensiaal het om baie te bereik. Daar is altyd ’n diamond in the rough, gewoonlik waar dit die minste verwag word.”
“Ons bewonder julle passie en julle liefde vir dit wat julle doen. Ons besef nie altyd die tyd en die dissipline wat julle insit en wat dit verg om die natuur hier buite instand te hou en te beskerm nie,” het juffrou Maronize Groepe gesê.



