Thys Mulder en sy familie. Agter van links is Demiché Bekker, Marchant Mulder, Fanie Bekker, Delmarie Mulder, Craig Mulder, Marché Mulder, Justine Mulder en ouma Bessie Mulder. Voor is Chanté Mulder, Thys Mulder, Evanré Bekker, June Mulder, Deané Mulder en Chyanne Mulder. foto:VERSKAF


AGTER elke suksesvolle besigheid staan daar… ’n besigheidseienaar wat passievol is oor die bedryf waarin hy of sy is en wat sy storie ken!

So is dit ook vir Thys Mulder, wat met sy sakevernuf die Uitenhage sakereuse Crash Motors, Crash Towing & Recovery sowel as Mulder Eiendomme opgebou het.

Mulder word op 5 November 70, maar vier sy verjaardag op Vrydag, 1 November saam met familie en vriende. As deel van dié mylpaal in sy lewe wil hy ander sakemense en jong entrepreneurs bemoedig om ook hulle passie uit te leef en ’n sukses van hul besighede te maak. Sakevernuf is sinoniem met Mulder en sy familie, wat almal deel is van die Mulder-besighede in die uiters kompeterende insleepdiens, grondverskuiwingsindustrie sowel as eiendomsbedryf en gasvryheids-akkommodasie.

Harde werk en bly op hoogte van sake

Mulder se suksesse skryf hy toe aan harde werk, sy ondersteuningsagente, om op hoogte te bly met wat in die plaaslike sakewêreld aangaan én om op die regte tyd op die verkeerde plek te wees.

“Jy moet betrokke wees by jou werksprosesse en werkers en nie net in die kantoor sit nie. Jy moet in werkswinkels rondloop, ’n oog hou by ’n bouperseel, gereeld jou eiendomme besoek. Daarom spot ek altyd en sê ek’t ’n gawe om op die regte tyd op ’n plek te wees,” sê Mulder.

Hy glo daarin om mense verantwoordelik-hede te gee wat hulle kan hanteer en om hul daarmee te vertrou, sodat hulle weet jy verwag van hulle net hul beste.

Thys sê jy moet altyd daarna streef om die beste moontlike opsie in jou lyn van besigheid te wees, dié gekose sakeonderneming waarna jou kliënte hul vriende en kollegas sal na verwys.

Elke besigheid is afhanklik van iemand anders se geld, daarom is goeie klienteverhoudinge so belangrik.

“Vir my is die suksesse wat ek behaal ook te danke aan ’n paar steunpilare wat rigtinggewend in my lewe is. My familie, my gesondheid, dominee, prokureur, ouditeur en kliënte.”

Trots op sy kinders

Thys is trots op sy drie kinders wat reeds ’n geruime tyd beheer oor die Mulder- besighede geneem het. Dié besighede het elkeen van hulle in hul eie reg die geleentheid gebied om eksperts te word en gevolglik het die Mulder-besighede na ’n volgende vlak van sukses gegroei.

Marchant Mulder is in beheer van Crash Towing & Recovery en sy vrou, Justine, is sy regterhand as kantoorbestuurder. Delmarie Mulder, Demiché (néé Mulder) Bekker en Fanie Bekker bestuur Mulder Eiendomme.

Hulle word bygestaan deur die oorhoofse kantoorbestuurder Claudia van Rooyen, wat al die afgelope 34 jaar in die Mulder-sake werksaam is.

Sy vrou June, was deur die jare blootgestel aan die vaardighede wat dit vereis om dié familiebesigheid van krag tot krag te laat groei. Haar tyd en vindingrykheid spandeer sy deesdae in die akkommodasie-bedryf.

Begindae

Die suksesverhaal van Thys Mulder het in 1972 begin toe hy sy motorwerktuigkunde-werkswinkel begin het. Dieselfde jaar het hy in eiendomme begin belê.

In die daaropvolgende jare is hy verskeie keer deur die destydse Uitenhage & Despatch Sakekamer sowel as die Oos-kaapse besigheidsvennote erkenning gegee vir sy bydrae en toewyding tot die plaaslike ekonomie.

Thys glo daar moet altyd ’n nuwe projek wees wat wag.

“Daarom sorg ek dat daar tot by my huis altyd iets is wat nog gedoen moet word. Daar moet altyd die vooruitsig wees van iets nuuts om te doen, want as alles klaar en reg is lyk dit of jy op jou einde is,” sê Thys.

Geniet wat jy doen

“My lewe is vir my ’n fees, van die beginjare as motorwerktuigkundige tot nou, 47 jaar later. In elke belewing was daar iets wat ek geniet het.

“Ek het gedoen wat ek wou doen. Wat ek nog moet doen geniet ek al die pad. Aan jong sakelui wil ek sê, daar is hoop, geniet wat jy doen en doen dit met toewyding en ywer, onweers-wolke kom op jou pad, maar weet jy . . . dit trek weer verby.” sê Thys.

Dankie

Thys sê dankie aan sy vrou June en hul uitgebreide familie sowel as elkeen verbonde aan die Mulder-besighede, vir hul toegewydheid.

Dankie ook aan elke kliënt vir byna vyf de-kades se ondersteuning.

Dankie aan ondersteuningsagente waarmee hy die pad in sy lewe saamloop soos sy ouditeure, prokureur, dominee, dokter, plaaslike polisie en ander sakelui van die dorp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article