DIE laaste van die stigterslede van die Uitenhage Veediefstal-eenheid lê einde Maart die tuig neer.

Inspekteur adjudant-offisier Marius (Div) de Villiers neem na bykans vier dekades van die Uitenhage Veediefstal-eenheid afskeid. Foto:VERSKAF

Inspekteur adjudant-offisier Marius (Div) de Villiers wat in 1983 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit het was instrumenteel in die inheggtenisnemings van honderde vermeende veediewe, stropers en ook tientalle vermeende moordenaars en ander misdadigers.

Met 25 stigterslede, toe die Uitenhage Veediefstal-eenheid nog in sy kinderskoene gestaan het, het dit reeds sowat 60 sake per maand in die Swartkops-omgewing hanteer.

Die eenheid het later ook veel wyer gewerk om plaasgemeenskappe van omliggende dorpe te bedien.

De Villiers het in 2020 COVID-19 opgedoen en was as gevolg hiervan vir die langste enkele periode af siek gedurende sy amper vier dekades van diens. Hy het kort hierna besluit dat dit tyd geword het vir hom om die teuels aan die jonger garde te oor te gee.

“Dit is nou tyd dat dié wat by ons geleer het die wa verder deur die drif trek,” sê De Villiers.

Een van De Villiers se kollegas, konstabel Maya Ntshiyane, het gesê die sukses van die veediefstal-eenheid kan grootliks aan De Villiers toegeskryf word.

“Hy het deur die jare soveel kennis en ondervinding opgedoen en dit met ons gedeel tot groot voordeel van die eenheid. Sy afwesigheid gaan ’n groot leemte laat.”

De Villiers sê sy loopbaan – wat oor 38 jaar strek – het talle hoogtepunte opgelewer, maar het ook baie uitdagings gebied. Gru-tonele was aan die orde van die dag en hy het gesê dat baie van die lede deur die jare heen onder die grusaamheid en meegaande druk geknak het.

“Ek dink my positiewe lewensuitkyk het my deur hierdie donker tye, waarvan daar baie was, gedra.”

Volgens hom het hy en die eenheid ook gereeld dreig-oproepe ontvang.

“Dit is nogal vreesaanjaend, veral wanneer jou kinders nog klein is.”

In ‘n stadium was De Villiers en sy gesin se veiligheid tot so ’n mate in die gedrang, dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens sy huis van koeëlvaste vensters voorsien het.

“Die vermeende misdadigers het geweet waar my vrou gewerk het en ook waar my oudste kind op skool was. Die polisie het selfs elke week vir my ’n ander voertuig gebring om die verdagtes van my spoor af te gooi.”

As hoogtepunt van sy loopbaan sonder hy beslis die vriendskappe wat hy deur die jare met die boere en plaasgemeenskappe gesmee het uit.

“Baie van die boere en hul gesinne het deur die jare goeie vriende geword, vriendskappe wat altyd gekoester sal word.”

Oor sy planne vir aftrede sê De Villiers hy gaan dit vir eers rustig vat.

“Ek wil eers bietjie ‘vakansie’ hou voor ek ander planne maak.”

Hy sê sy vakansieplanne sluit beslis koffie-kuiers met sy boere-vriende in en dat hy later ook weer bietjie wil visvang en sy ander stokperdjies wil beoefen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article