Hier is die koor wat die kerngroep vorm van die beplande nuwe dorpskoor. Foto:VERSKAF


OUDISIES om jou stem te hoor in ’n dorpskoor word vroeg volgende week op Uitenhage gehou.

Planne om dié nuwe koor op die been te bring is die inisiatief van Marius de Bruin en Liesel Murphy, beide bekendes in musiekkringe.

“Ons beplan om die dorpskoor teen Maart operasioneel te hê en hoop dat dit kan uitbrei na ’n provinsiale koor in die Oos Kaap,” sê Marius de Bruin, tans orrelis by die St. Pauls Anglikaanse kerk in Port Elizabeth.

Die gedagte vir ’n dorpskoor het by hom en Liesel verlede November opgekom, met die koor-voorbereiding vir ’n gesamentlike Kerssangdiens van die ring van Uitenhage.

“Dié koorlede is kern van die beplande dorpskoor. Om meer stemme te werf, wil ons graag oudisies hou. Alle belangstellendes is welkom,” sê Marius.

Dié oudisies word op Maandag, 24 Februarie gehou.

Marius is ’n orrelis, komponis en koordirigent. Hy verwerf die B.Mus-graad aan die Universiteit van Pretoria; en het orrel studeer by dr. Wim Viljoen met komposisie onder prof. Stefaans Grové en klavier onder Heinrich van der Mescht.

Twee van sy operas Via Dolorosa en Mara is in die Pretoria stadsaal opgevoer, waar hy ook voorheen die kurator was van die groot orrel.

Liesel Murphy het die grade BMus en MMus in musiekonderrig aan die Nelson Mandela Universiteit se Skool vir Musiek verwerf, waar sy orrel onder Colin Campbell en Antonio Lawack gestudeer het met klavier onder dr. Erika Bothma.

Sy was voorheen as musiekonderwyseres verbonde aan Laerskool Albertyn en Caledon Preparatory School op Uitenhage. Sy gee tans tuis musiek aan privaat-leerlinge en is ook orrelis by die gemeente Uitehage-Oos.

  • Vir meer inligting oor die beplande dorpskoor of Maandag se oudisies, bel Marius de Bruin by 060 847 5772 of Liesel Murphy by 073 731 7785.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article