’n FISIESE Wetenskappe-onderwyser van die Hoërskool Despatch, Kosie Smit, is onder die top 20 genomineerdes vir Solidariteit se Onderwyser van die jaar-toekenning.

Kosie Smit, departementshoof van Fisiese Wetenskappe en Wiskunde by Hoërskool Despatch, is onder die top 20 genomineerdes vir Solidariteit se Onderwyser van die jaar-toekenning. Foto:HEILIE COMBRINCK

Hy is deur die Solidariteit Despatch-tak genomineer. Daar is sowat 2 000 nominasies ontvang wat uitgedun is na 700 en daarna is die top 20 aangewys. Môre is die laaste dag vir die publiek om te stem vir die #Bordkrytboffin van 2021.

“Dit is vir my ‘n groot eer om dié nominasie te beleef,” sê Smit.

“Dit maak nie saak of ek die titel wen of nie. Net om te sien wat leerders, oud-leerders en ouers op sosiale media oor my sê, is ongelooflik. Ek is bevoorreg om hierdie mooi dinge te beleef voor my dood, want gewoonlik praat almal net mooi van jou nadat jy dood is.”

Smit het aan Hoërskool Despatch gematrikuleer en aan sy Alma Mater sy onderwysloopbaan begin om sy droom as top onderwyser, soos sy destydse skeinat-onderwyser meneer TC de Jager, uit te leef.

“Meneer De Jager het ‘n groot indruk op my lewe gemaak en ek het wou soos hy, ook eendag ‘n gerekende onderwyser word.

“Die ander groot rolspelers in my lewe was Meneer Oosthuizen tydens my studentejare en later toe ek hier begin skoolhou was meneer Paul Adams my mentor by wie ek ontsettend baie oor die onderwys geleer het.”

Op ‘n vraag wat dit is wat onderwys vir hom so spesiaal maak, het Smit geantwoord: “Die kinders. Veral die kinders in die klas wat hulle alles gee en moeite doen om te leer en wat waardeer wat ‘n mens vir hulle doen. Dit inspireer my om nog meer te gee … om my alles te gee.

“My strewe is as ek eendag na my aftrede op Huis Najaar se stoep sit en terugdink aan my skoolhou dae, te weet ek het 110% gegee,” sê Smit.

Veelsydige onderwyser

As motivering vir sy nominasie is die volgende oor Smit gesê: Om sy leerders se horisonne te verbreed, skryf hy vir elke moontlike kompetisie in. Hieronder tel die MINTEK-vasvra, Waterwerkkompetisie, Brugboukompetisie, asook die STEMLAB by NMMU. Sy leerders kan ook daarvan getuig dat hy geen geleentheid laat verbygaan om hulle vermoëns uit te daag nie.

Op buitemuurse gebied rig Smit vir 34 jaar die skyfskietspanne van die skool af, word die OP-voorsitter en verdien later die voorreg om as nasionale SANSSU-afrigter gekies te word en die span na Engeland te vergesel. Hy is ook al 20 jaar lank hoof van die skool se Senior Raad van Leerders. Vele hoofleiers en ander leiers is al deur sý hande, almal leiers op wie die skool met reg trots kan wees.

Hy was al ook atletiek- en tennis-afrigter en is tans die hoof van die skool se Groenklub wat ook betrokke is by herwinning.

Hoe om te stem

Om vir Kosie Smit, departementshoof van Fisiese Wetenskappe en Wiskunde by Hoërskool Despatch te stem as die #Bordkrytboffin van die jaar besoek www.solidariteit.co.za/onderwyser-van-die-jaar-stem/ (stemme sluit 1 Oktober om 17:00).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article