Oud-spories se stories van hul jare in die Suid-Afrikaanse Spoorweë het gesorg vir goeie samesyn tydens verlede week se saamtrek van oud-spoorwegwerkers by Innibos Lapa buite Despatch.
Jannie van Niekerk, wat 43 jaar diens by Spoornet/Transnet gedoen het en een van die sameroepers van die saamkuier is, sê hulle noem hulself die Ysterman- en Ystervrou-groep.
“Ons het mos almal met ysters en staal gewerk en is pensioenarisse wat by hier by Spoornet en Transnet in die omgewing gewerk het.
“Wat so lekker is, is dat ouens nie hier sit en spog nie, maar gesels oor goeie belewinge en al die poetse wat gebak is. Ek het nooit geweet van hierdie ouens was so stout nie. ’n Mens sien net vreugde op hulle gesigte en almal gesels en lag.”
Nog ‘n sameroeper, Christiaan Barnard, met 47 jaar diens, het met dié groep begin. Hy sê vir die eerste saamkuier het tien pensioenarisse opgedaag en vir verlede week se kuier is 300 uitnodigings uitgestuur en daar was 103 mense.
Anna-Marie Swanepoel het 46 jaar diens by die diesel depot en is ook ’n sameroeper. “Ek het al die jare tussen die mans gewerk en is gewoond om saam met hulle te kuier. Ek probeer om nou meer vroue wat ook by die spoorweë gewerk het, betrokke te kry.”
- Die Ysterman- en Ystervrou-groep kom vier keer ‘n jaar by- mekaar en die volgende saamkuier is in Maart 2023. Vir meer inligting bel Christiaan Barnard by 072 346 5961.


