Rudolf de Vos by sy kragtige spoedvraat, ’n 1973 Chevy Firenza Can-Am V8, wat by die Alles op Wiele van Toeka tot Nou Motorskou op 21 Oktober op Despatch te sien én hoor sal wees.

Foto: Heilie Combrinck

In 1973 het ’n kompakte V8 kragtige spoedvraat, die Chevrolet Firenza Can-Am 302, die renmotorbedryf betree om die toe nog onoorwonne legendariese Ford Capri Perana in die stof te laat byt én meesterlik daarin geslaag.

Ook nie te lank nie, of die Can-Am kry die bynaam Ferrari Killer – so genoem omdat die blitsmotor binne enkele sekondes 120km/h in eerste rat kan haal.

Vyftig jaar later nadat die eerste Chevy Firenza Can-Am by General Motors in Kempstonweg in die Baai die produksielyn verlaat het, is daar baie min van die oorspronklike 100 ikoniese motors oor.

Een van die min mense in die wêreld wat nie net een nie, maar twee Chevy Firenza Can-Ams besit, is Rudolf de Vos, sakeman van Humansdorp en nasionale renjaer wat in sy kragtige 600 perdekrag klein Can-Am die een na die ander wedren in sy klas wen.

Rudolf het vroeër vanjaar saam met sy vrou Sylvia en die bekende motorsportman Michael Barnard ‘n Chevrolet Can-Am 50th Anniversary Carnival by die Zwartkops-renbaan aangebied. Die toekouers het hulle vergaap aan die 42 Chevy Can-Ams wat daar te sien was.

Binnekort is dit weer sulke tyd wanneer vyf van die kragtige Can-Ams te sien sal wees by die Alles op Wiele van Toeka tot Nou-motorskou wat op 21 Oktober op Despatch aangebied word. Vir Rudolf sal dit weer ‘n dag van groot trots wees.

“Daar is min mense wat die voorreg geniet om ’n oorspronklike Chevy Firenza Can-Am te besit. Sover ons weet is daar net 16 oorspronklike Chevy Firenza Can-Ams in die wêreld oor.

“Dit is ’n kar met ’n unieke V8-klank wat altyd adrenalien-vlakke opjaag. As jy nie met ‘n glimlag uit ’n Chevy Can-Am klim nie, het jy nie ’n hart nie. Dit is ’n kar wat jy begeer, nie omdat dit mooi is nie, maar omdat dit so kragtig is.”

Rudolf vertel dat die Perana in die 1970s tydens die destydse Suid-Afrikaanse Argus produksiekar-kampioenskappe wedren na wedren gewen het. Soveel so dat Basil van Rooyen‚ ’n destydse renjaer naderhand moeg daarvoor geraak het om met sy Perana te oorheers en hy het met ’n mededingerplan van ’n kragtige spoedvraat vorendag gekom.

Basil se plan was om ’n Chevrolet Firenza met ’n kragtige Camaro Z28 V8 enjin toe te rus en het dit die Mamba genoem. Hy is met sy plan na General Motors se destydse grootbaas in die Baai, Bob Price, om hom te oorreed om die klein sportmotor op die produksielyn te kry.

Rudolf vertel dat Basil glo vir Bob gevra het, “Waarom suig GM aan die agterspeen van motorsport terwyl Ford die Perana het wat alles wen en Renault het die Gordini, maar GM sit met hande gevou? Onthou, in daardie era was die resiesbaan die plek waar karre bemark is: What wins on a Saturday you sell on a Monday.

“Bob het toe Basil gevra wat hy in gedagte het. Sy antwoord was resieskar met ’n Firenza-bakwerk en onderstel en ’n V8-enjin. Bob het sy hoofingenieur ingeroep en gevra wat hy van die idee dink en die ingenieur het gesê dit gaan nie werk nie, want die wringkrag is te veel vir die onderstel. Basil het glo gevra watter deel, die deurskarniere of deurslotte?“

Daarna het Bob die hoofingenieur verskoon en aan Basil gevra hoeveel karre wil hy hê moet vervaardig word.

Basil het in Australië gewoon en hy het vroeër vanjaar, kort voor sy dood, in ’n televisie-onderhoud gesê die eerste van die 100 karre is in ’n rekordtyd van vyf weke gebou, hoofsaaklik na ure en oor naweke om nie inbreuk op normale produksie te maak nie. Die Firenza Can-Am was nie net sy idee nie, maar hy was ook deel van die produksiespan wat die karre gebou het.

Die 302-enjin wat gebruik is, was in Amerika gebou vir Trans-Am wedrenne en is Can-Am genoem wat van Canadian American afgelei is terwyl die ratkas ’n M21 Muncie met ’n 2:2 rat-verhouding is.

Rudolf se liefde vir karre is deel van sy DNA en die Can-Am is dominant. “Die Can-Am het soveel krag, jy moet dit met respek ry anders hardloop hy uit jou hande uit. Met ‘n topspoed van 250km/h moet jy nie net weet hoe om te ry nie, maar ook hoe om die kar gestop te kry!

“Om te dink dié Chevy Firenza Can-Am is oorspronklik vir R5 800 verkoop. Vandag, afhangende van die kar se toestand, sal jy maklik R1,5 miljoen opdok vir ’n oorspronklike een.”

Rudolf wys ’n paar unieke kenmerke van oorspronklike Chevy Firenza Can-Ams uit. “Kyk, die enjin is effens skeef gemonteer, dit kan nie reguit inpas nie weens die steering column en starter. Kyk na die sitplekke, die tilt bo effe inwaarts. Kyk na die luginlate op die enjinkap, daar is ’n enkele versterking in die middel van elk van die twee openinge.“

Daar is ook GM-reeksnommers op alle onderdele van die Chevy Firenza Can-Am, wys Rudolf dit uit op die kantplakkers en ook agter op die drukvin.

“Dié Chevvies het nie met radio’s uitgekom nie. As jy wil musiek luister, luister jy na die Can-Am se klank, daardie krag is soos musiek in jou ore.”

Om vyf van die wêreld se oorspronklike 100 Chevy Firenza Can-Ams te sien én hoor, maak ’n draai op 21 Oktober by die Alles op Wiele van Toeka tot Nou Motorskou, wat deur Concept Crew op die Laerskool Frans Conradie se sportgronde aangebied word.

Vir meer inligting oor die fees bel Pierre Janse van Rensburg, Concept Crew se voorsitter, by 068 272 4117.

– UITGEREIK DEUR CONCEPT CREW MOTORKLUB

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article