Fietsryers Regardt van der Merwe (links) en Johan Oosthuizen vertrek môre om 07:00 uit Kirkwood op hul fietse om ’n sowat 565km sirkelroete deur vier dorpe in 48 uur te voltooi. Die uitdaging is om fondse in te samel vir die kosnood in die Sondagsriviervallei. Foto:VERSKAF

DIE Tafelronde Kirkwood 78 het met ’n fietsry-plan vorendag gekom om die groeiende nood in die Sondagsriviervallei weens die COVID-19 pandemie, te help verlig.

Die Ride4Charity is ’n fietsry-uitdaging waaraan twee taai trappers, in een rit van 565km, binne 48 uur deur vier Oos-Kaapse dorpe gaan ry.

Die publiek word uitgenooi om deel te wees van die uitdaging deur die taai tweemanskap met ’n Rand per kilometer te borg. Enige afstand kan geborg word, want elke Rand gaan ’n verskil maak.

Wanneer daar van ’n fietsryuitdaging gepraat word, is die maltrap Uitenhage-fietsryer Johan Oosthuizen gewoonlik deel daarvan. Hy en Regardt van der Merwe begin môre om 07:00 vanaf Kirkwood te trap om kilometer vir kilometer ’n verskil te help maak.

“Mense kry baie swaar. Weens die COVID-19 inperkings kon hulle het nie werk nie en ge-volglik is daar nou groot kosnood,” sê Johan Oosthuizen van die Fuel On Wheels welwillendheids-organisasie.

“Toe ek van die fietsryery hoor en veral die lang afstand, het ek besluit ek wil deel wees daarvan.

“Solank ek kan fietsry en terselfdertyd mense kan help, is ek op my gelukkigste.”

Die roete waarop Oosthuizen en Van der Merwe met hul bergfietse gaan ry, is hoofsaaklik op agterpaaie (grondpaaie) en loop vanaf Dagbreek Spar op Kirkwood na Steytlerville, Willowmore, weer terug na Steytlerville, dan na Jansenville en weer terug Kirkwood toe.

Nog twee fietsryers, Wannie Astrie en Roland “Rolls Royce” Clark gaan saam trap terwyl Vincent Upton en Christo Janse van Rensburg in die ondersteuningsvoertuig as sekuriteit gaan saamry.

“Daar is niks van ’n geslaap langs nie pad nie. Ons gaan deur die nag ry en die roete klaarmaak,” sê Oosthuizen, wat vir die eerste keer op ’n bergfiets die langpad aandurf.

“Maar ek is reg, want Roland is soos ’n MacGyver op ‘n fiets. Hy het alles by hom van ’n braaier, kole tot toiletpapier en hy haal sommer maklik ook ’n two minute steak uit sy rugsak. Hy is die perfekte ou om langs jou te hê op so ’n taai uitdaging,” sê Oosthuizen.

Elke kilometer kan ’n verskil maak

Die publiek word genooi om die twee-manskap met ’n Rand per kilometer te borg. Enige afstand kan geborg word. Die bankbesonderhede is as volg: KWD Round Table Welfare, FNB, rekeningnommer: 526 6170 9571, takkode 250 655, verwysing: R4C + naam/van.

“Al die fondse wat ons gaan insamel, gaan gebruik word om kospakkies op te maak wat volgende week aan behoeftige mense in die Sondagsriviervallei uit te deel,” se Oosthuizen.

Die Ride4Charity fietsry-uitdaging word aangebied deur Tafelronde Kirkwood 78 in samewerking met Eastern Cape Motors Uitenhage, Luister!FM en Fuel on Wheels.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article