Mieke van Tonder en Tiaan Vosloo het aan die SA Skole-atletiekkampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem. Tiaan het daar twee silwer medaljes gewen. Fotos: HEILIE COMBRINCK


ATLETE van Laerskool Sonop het vanjaar tydens die plaaslike-, sone-, distrik-, Metro-, provinsiale- sowel as nasionale-atletiekbyeenkoms puik presteer.

In dié 2022-atletiekseisoen het Tiaan Vosloo ‘n ongelooflike 12 rekords verpletter en ook twee silwer medaljes by die pas afgelope SA skole-kampioenskappe gewen, terwyl Mieke van Tonder altesaam vyf rekords tydens die seisoen verbeter het.

By die skool se kleurebyeenkoms het 57 atlete gekwalifiseer om aan die sone-byeenkoms deel te neem, en daarna het 29 atlete deurgegaan na die distrik-byeenkoms, waarna 19 atlete die Uitenhage-distrik by die Metro-byeenkoms in Port Elizabeth verteenwoordig het.

By die Metro-byeenkoms het Sonop-atlete vyf goue-, sewe silwer- en drie brons medaljes gewen.

Ses van die skool se atlete word daarna gekies om aan die Oos-Kaap provinsiale-byeenkoms op Cradock te gaan deelneem. Daar het hulle vier goue- en vier brons medaljes verower.

Mieke (graad 7) en Tiaan (graad 6) het uitstekend presteer en daarin geslaag om onderskeidelik twee provinsiale rekords elk te verbeter. Juané Schuin het ook ‘n rekord by die provinsiale-byeenkoms verbe-ter.

Mieke en Tiaan is vir die Oos-Kaap-atle-tiekspan gekies wat aan die SA-skolekampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem het.

Mieke word reeds jare lank deur Yolande Vosloo afgerig, terwyl Tiaan deur sy pa Riaan en sy oom, Karel Gerber, afgerig word. Die skool wens hierdie twee atlete en hul onderskeie afrigters alle voorspoed toe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article