Die Voortrekkers geniet dit só in die see van plastiekdoppies.

Foto: Anika de Beer

“Baie van ons wil graag help in die gemeenskap, maar ons weet nie altyd waar en hoe om te begin nie.”

Hierdie was die woorde van Margaux Prince, die stigter van die organisasie, Making a difference, one person at a Time.

Sy het twee jaar gelede die organisasie begin met die doel om ’n verskil te maak in ander se lewens, al is dit ook net een persoon op ’n slag.

Die Voortrekkers van Despatch het te hore gekom van dié organisaise en het besluit om skouer aan die wiel te sit en by te dra.

Vroeër vanjaar het hulle ’n hele vrag doppies aan Margaux oorhandig wat sy weer vir Cheshire Homes geskenk het. Dié doppies dra dan by tot ’n rolstoel vir ’n behoeftige inwoner.

En nou het die Voortrekkers dit weer gedoen. Hulle het op Vrydag, 16 Junie, sowat 500kg in plastiekdoppies oorhandig.

Die kinders het swaar aan die sakke vol doppies, maar uitgesien na die swem, gly en sommer net baljaar in die saal.

Trudie Swanepoel van die Despatch Voortrekker Kommando, het gesê dit was harde werk, maar hulle sal beslis aanhou om doppies in te samel.

’n See van plastiekdoppies

Die Despatch Voortrekkers het hul jonger lede genooi om prettig te baljaar in die doppies voordat dit oorhandig is.

Op 15 Junie het sowat 25 kinders die doppies uit hul sakke geskud in die saal en daarin gegly, geloop en geswem vir ’n paar ure.

Dit was ’n belewenis en hulle het dit behoorlik geniet voordat hulle weer die doppies terug in die sakke gepak het om die volgende dag te oorhandig.

Jy kan ook betrokke raak

Besoek Making a difference, one person at a Time se Facebook-blad vir meer inligting, om betrokke te raak, of om net ’n bydrae te lewer.

Margaux plaas elke maand ’n behoefte-lysie op dié blad. Dié wat wil bydra, kan haar laat weet en sy sal die skenkings kom haal.

Die jonger lede van die Despatch Voortrekker Kommando het baljaar in al die doppies wat ingesamel is vir ’n plaaslike organisasie. Wie sou nou ooit kon dink dat ’n plastiekdoppie ’n verskil in ’n ander se lewe kan maak? Voordat jy weer die doppie net in die drom gooi, hou dit eenkant en dra by tot die verskil.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article