PEMADS (Port Elizabeth Musical and Dramatic Society) se nuutste verhoogproduksie, Wild & Wicked West End! word tans in Gqeberha aangebied.
Met skurke, buitestaanders, gebroke harte en stoere karakters sal dié musiekproduksie weereens die vermaak in die Baai na nuwe hoogtes neem.
Volgens Bennie Gerber, die regisseur van die produksie sal Wild & Wicked West End! selfs beter wees as die Goldilocks Pantomime waarmee geweldige sukses behaal is.
Op die program word musiekteater-liedjies van die nuutste moderne musiekblyspele soos onder andere Love Never Dies, Mean Girls, Beetlejuice, Prince of Egypt, Chicago en School of Rock ingesluit wat met uitmuntende dans- en sangnommers gepaard sal gaan.
Ou en nuwe talent soos Jesse Barth, Taryn Bigge, Tiaan Bosch en Melissa Leander sal soos altyd, weereens hulle beste tydens die produksie aanbied.
Tilette Schreuder-Roelofse behartig die choreografie en Caeleigh Heradien die musiekregie en sal ook hulle verhoog-talent tydens die vertoning ten toon stel.
PEMADS het ook ’n nuwe tuiste by die Laerskool Newtonpark vir die opvoering van hulle produksies beding wat beter veiligheid, meer geriewe en bekostigbare kaartjiepryse vir die teatergangers beteken.
Wild & Wicked West End! word tot 9 Junie met aandvertonings elke Maandag tot Saterdag, plus matinee-vertonings op Saterdae en Sondae aangebied.
Die kaartjies kos R100 en R120 per persoon en kan aanlyn by Webtickets en by Pick n Pay gekoop word.
Die vertoning het ’n PG-13 ouderdomsaanbeveling, maar dis net ’n vriendelike voorstel. Parkering sal rondom die skoolperseel beskikbaar wees.
Daar is ook ’n kiosk en koffiekroeg waar eet-en drinkgoed te koop sal wees. Geen alkohol sal verkoop word nie, maar volwassenes is welkom om hulle eie drankies saam te neem.
Volg PEMADS op Facebook by @pemadspe vir al die nuutste nuus en meer inligting.


