Ná ‘n uitdaging deur ‘n skoolhoof aan leerders, het die leerders gewen en nou gaan dié skoolhoof, Kosie Smit van Hoërskool Despatch, ‘n nag op die skool se dak moet deurbring.

Foto: Verskaf

Ná ‘n uitdaging deur ‘n skoolhoof aan leerders, het die leerders gewen en nou gaan dié skoolhoof, Kosie Smit van Hoërskool Despatch, ‘n nag op die skool se dak moet deurbring.

Smit het aan die begin van die wintersportseisoen besef dat daar te min ondersteuning by sportwedstryde is en dat leerders nie in hul skooldrag opdaag nie. In ‘n poging om die pawiljoen vol te kry met leerders wat trots is op hulle skool, het hy ‘n uitdaging aan die leerders gerig: maak die pawiljoen vol én boonop in skooldrag en hý slaap op die dak.

“Toe ek in die vierkant die kinders uitdaag, het ek besef ek moet in die proses iets aan hulle teruggee en op die ingewing van die oomblik het ek gesê ek sal op die dak gaan slap as hulle in skoolklere die pawiljoen met die volgende sportbyeenkoms vol sit,” sê Kosie Smit, skoolhoof van Hoërskool Despatch.

“Ek het so iets nog nooit gedoen nie. Ek sal baie warmgoed saamvat om die nag te oorleef, want ek hoor dit gaan baie koud wees.”

So gesê, so gedaan … en nou gaan Smit môrenag op die skooldak deurbring. Dit gaan ‘n lang nag wees en nou is daar ‘n verdere uitdaging. Die skool daag alle leerders, onderwysers, ouers, oudleerders, vriende en familie uit om Meneer Smit te ondersteun.

As deel van môre-aand se jolyt gaan leerders aan ‘n georganiseerde wegkruipertjie-speletjie op die skoolgronde deelneem. Daar sal ook worsbroodjies, pannekoek, caramel-munchies en cappuccino te koop wees.

“My graad 12 Skeinat-leerders het vir my gesê ‘Meneer, jy het nie gedink nie!’ Toe sê ek nee ek het nie, ek het net gesê. Toe sê hulle, ‘Meneer, dan gaan ons dit saam met jou doen! So, nou is ek darem nie alleen op die dak nie, dié graad 12s én my vrou, Adamina, gaan saam met my dit aanpak,” sê Smit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article