Ethan Bothma (14) het gegradeer vir ‘n Shodan swart-gordel (1ste Dan). Wat sy prestasie uitsonderlik maak is dat ‘n student eers op 16-jarige ouderdom kwalifiseer vir ‘n Shodan swart-gordel.

Foto: Mornette Bothma

Om op die ouderdom van 14 reeds te gradeer vir ’n Shodan swart-gordel (1ste Dan), beteken dat jy ’n uitsonderlike goeie karateka is.

Normaalweg gradeer ’n student eers op 16-jarige ouderdom na sy/haar Shodan swart-gordel.

Tog het Ethan Bothma, ’n graad 9-leerder van Hoërskool Brandwag, dié uitsonderlike prestasie behaal. Hy is deur Sensei Soon Pretorius, hoof van JSKA (Japanese Shotokan Karate Association) in Suid-Afrika en Afrika, gegradeer.

Ethan het op vyf-jarige ouderdom met karate begin. Daarna het hy elke jaar aan plaaslike en nasionale kompetisies deelgeneem en elke keer medaljes gewen. Hy het ook verskeie keer aan die Shotokan International Championships deelgeneem en is elke keer as beste deelnemer van die toernooi aangewys.

Op die ouderdom van sewe was Ethan reeds ’n wêreldkampioen in sy afdeling en het ook op nege-jarige ouderdom ’n brons medalje in St Petersburg, Rusland gewen by die JSKA Karate Wêreldkampioenskappe.

Ethan het vanjaar weer gekwalifiseer en is gekies om Suid-Afrika in die JSKA Wêreldkampioenskappe in Augustus 2023 in Lübeck, Duitsland te verteenwoordig. Dit sal Ethan se derde keer wees dat hy aan ’n wêreldkampioenskap deelneem.

Ethan gaan ook Kariega Dojo op 19 en 20 Mei by die 39ste JSKA Nasionale Kampioenskappe in Pretoria verteenwoordig.

Buiten karate is Ethan ook ’n kranige speller wat vanaf graad 2 jaarliks aan die WOW Spelfees deelneem. In graad 8 het hy in die nasionale ronde ’n vyfde plek behaal. Hy berei tans voor vir die provinsiale ronde wat in September gehou word. Ethan was verlede jaar as die beste speller in sy provinsiale ronde van WOW Spelfees aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article