’n SELFOONFOTO van arm skoolkinders het die hart van ’n agtjarige só geraak dat hy ’n projek begin het wat spoedig uit sy nate gebars het.
“Sjoe . . . dit het my so gepla dat daar kinders is wat so swaarkry, toe sê ek vir my ma sy móét my help, ons moet iets doen om hulle te help,” sê Jamie Brown (8), ’n graad 3-leerder by die Laerskool Handhaaf op Uitenhage.
Haar seun se pleidooi het Liezel Brown laat besluit om sosiale media in te span en mense te vra om te help met die skenkings van opvoedkundige speel- en skryfgoed aan Jamie’s Toy Box-projek.
“Ons het ’n mooi fototjie van hom geneem en dit saam met sy boodskap en doel van die projek op sosiale media geplaas,” sê Liezel.
“Sommer vinnig ná dié plasing, het die eerste skenking van sagte speelgoed by hulle huis opgedaag,” sê Jamie.
“Ná so paar weke was ons hele eetkamertafel volgepak. En dit is ’n laaaaaaang tafel.”
Dié Jamie’s Toy Box-projek is in Oktober begin en met die aanbreek van die spertyd vir skenkings, het die tweede sarsie skenkings ingestroom. Uiteindelik is ses groot bokse vol speelgoed geskenk.
“Daar het net meer en meer en meer speelgoed ingekom. Ons het nou genoeg om dit aan drie skole te skenk,” sê Jamie.
Die drie skole wat by Jamie’s Toy Box-projek baat, is Wolwefontein Primêr, Sunshine Spesiale Skool op Uitenhage en Brandovale Primêr op Klipplaat.
Liezel sê hulle het die onderskeie skole genader om te hoor wat hulle spesifieke behoeftes is en skenkings is daarvolgens uitge-deel.
Candace Kivedo, skoolhoof van Sunshine Spesiale Skool sê, “Ek is verstom dat ’n kind van Jamie se ouderdom soveel insig het in die behoeftes van ander kinders. Ons waardeer die skenkings, dit gaan beslis handig te pas kom in ons skool. Dankie aan Jamie en sy ouers Morné en Liezel, wat hom in sy projek ondersteun.”
Magdalene George, adjunkhoof van Sunshine Spesiale Skool sê, “Speel is belangrik in ’n kind se ontwikkeling en daarom kan daar nooit genoeg speelgoed wees nie.
“Sonder skryfbehoeftes kan niemand skoolgaan nie. Ons waardeer Jamie se uitreik, veral na ons skool vir kinders met spesiale behoef-tes.”
Vir Anja Weyers, wat Jamie sedert sy speelskooldae ken toe sy verbonde was aan Huppelkind, is Jamie ’n ikoon. “Ek is dankbaar om te sien dat hy nie vir homself leef nie, maar vir ander wat minderbevoorreg is as hy. Ek is trots op hom.”
Anja is deesdae verbonde aan Sunshine Spesiale Skool waar sy ’n departementele pos beklee as onderwyser in spesiale onderrig.
Jamie sê hy is nou baie gelukkig. “Ek is so trots, want ek weet die kinders het nou speelgoed en skryfgoed. Baie dankie aan al die mense wat ons gehelp het.”
Dit is nie die einde van Jamie se projek nie, hy het nou ’n nuwe plan, ’n Krytekas.
“Ons gaan ’n lysie saamstel wat mense elke maand kan koop. Een maand ’n potlood, volgende maand ’n skerpmaker en so aan tot daar aan die einde van die jaar genoeg goed is om ’n sakkie vol skryfgoed te hê, wat ons dan volgende jaar vir skole gaan gee,” sê Jamie.
Dié Krytekas-projek sal in Februarie ook op sosiale media platforms te sien wees.


