DIE Sentrale Vuurwapenregister (SVR) wat verantwoordelik is om vuurwapenlisensie-aansoeke te prosesseer en lisensies uit te reik, blameer nou vuurwapeneienaars vir die reuse agterstand in dié proses.
Volgens brig. L J Mabule is dit die verantwoordelikheid van vuurwapenlisensie-aansoekers om toe te sien dat hulle aansoeke op die stelsel gelaai word.
In ’n kennisgewing aan rolspelers in die vuurwapensektor sê brig. Mabule dat die SVR probleme ondervind met onvolledige aansoeke wat hulle van die polisiestasies ontvang, en dus nie daardie aansoeke kan prosesseer nie.
Hy sê verder dat dit aansoekers se plig is om te verseker dat die plaaslike aangewese vuurwapenoffisier (AVO) die inligting op die stelsel invoer.
SA Jagters sê ‘dis belaglik’
Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) wat sowat 44 000 jagters en sportskuts verteenwoordig, sê dit is belaglik om van vuurwapenlisensie-aansoekers te verwag om toe te sien dat die inligting op die stelsel aangebring word.
“Dít is die werk van die AVOs by polisiestasies en waarvoor hulle betaal word,” sê Camphor.
Die SAPD en die SVR het onlangs hul prestasieverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie voorgelê. Die verslag het die volgende inligting verskaf:
Bevoegdheidsertifikate: Daar is’n agterstand van 188 296 aansoeke vir bevoegdheidsertifikate wat nog verwerk moet word. In sy kennisgewing, verduidelike brig. Mabule dat die SVR elke aansoeker se kriminele rekord by die kriminele rekordafdeling moet nagaan.
Agterstand-statistiek
- Lisensie-aansoeke: Daar is ’n agterstand van 138 908 aansoeke wat wag om verwerk te word. Hierdie is nuwe aansoeke, nie hernuwings nie (hernuwings word op provinsiale vlak hanteer, en nie deur die SVR nie.)
- Amnestievuurwapens: Tydens die 2019-amnestie, is 29 758 vuurwapens ingelewer waarvoor weer lisensie-aansoeke ingedien is. Hiervan is slegs 50% (14 899) afgehandel. Twee jaar het verloop sedert die aansoeke ingedien is. In die 2020/2021 amnestieperiode is 75 363 vuurwapens ingelewer waarvoor lisensie-aansoeke ingedien is. Slegs 5.6% (4 241) van hierdie aansoeke is afgehandel. Hierop het brig. Mabule verduidelik dat hulle eers ballistiese verslae moet verkry voordat die aansoeke hanteer kan word.
- Druk van lisensiekaartjies: Wat die uitreik van lisensiekaartjies betref, het brig. Mabule gesê die SVR het met die Staatsdrukkery gereël om die kaartjies te druk en by die betrokke provinsies af te lewer.
SA Jagters se ondervinding met SAPD en die SVR se dienslewering, is as volg:
- Dit neem tussen 12 en 18 maande – of selfs langer – om ’n aansoek vir bevoegdheid te finaliseer.
- Dit neem sowat 12 maande vir die aansoek en die uitreik van ’n vuurwapenlisensie, mits die bevoegdheid geldig is.
- Die hernuwing van ’n vuurwapenlisensie neem 6 tot 8 maande, mits die aansoeker se bevoegdheid geldig is.
Camphor sê daar is wel gevalle waar aansoeke binne drie tot vier weke afgehandel is.
“Dit bewys dat dit moontlik is om die proses binne ’n redelike tyd af te handel indien almal hulle werk doen.”
Volgens Camphor is wetsgehoorsame vuurwapeneienaars raadop met die SAPD en SVR se gesloer. Vuurwapenorganisasies probeer al vir baie lank om konstruktiewe insette oor die prosessering van vuurwapenlisensies aan die SAPD en SVR te lewer. ’n Konsultasieforum is in 2005 tussen die SAPD en 12 ge-akkrediteerde vuurwapenorgani-sasies gestig om kwessies rondom vuurwapenlisensies te bespreek. Die forum het laas in 2016 vergader omdat die SAPD en SVR opgehou het om die vergaderings by te woon.


