BO: Eugene van Rooyen van UD Sports wil weer die tradisie van sport op Uitenhage laat herleef. LINKS:Eugene van Rooyen in die agtertuin van UD Sports waar drawwers, stappers en fietsryers hul Saterdag-roetes kan begin en eindig. Foto’s: HEILIE COMBRINCK


LANK, lank gelede was daar Santos-kafee op Uitenhage . . . die plek waar drawwers Saterdae ontmoet het voordat hulle die pad gevat het. Nou, slegs ’n klipgooi daarvandaan, bied UD Sports dieselfde en méér aan drawwers, stappers en fietsryers.

Dié nuwe “oase” vir aktiewes is die idee van Eugene van Rooyen, mede-eienaar van UD Sports en self ’n atleet.

“Jare gelede toe my pa, Steven van Rooyen saam met Fanie Claassen, Charl Mattheus en nog ander gehardloop het, was die ou Santos die basis vanwaar hulle langafstande gedoen het. Vandaar het hulle die Terminator- en ander roetes aangepak,” sê Eugene.

“My idee is om die ou tradisie weer oor na-weke te laat herleef. Om te hardloop, stap of fiets te ry is ’n veilige en gesonde manier om sosiaal te verkeer. Hier by UD Sports se perseel is daar veilige parkering, ’n agtertuin met banke en sambrele (deur Coca Cola geborg), ablusiefasiliteit, ’n koffiemasjien, koeldranke en dit is sentraal geleë. So, groepe of individue kan van hier af die pad vat.”

Klok Saterdag in vir eerste ‘saam-oefen’

Die eerste van die UD Sports draf-, stap- of fietsrygeleenthede word Saterdag, 5 Desember vanaf 07:00 gehou. Enigeen is welkom om deur die loop van die oggend deel te neem, solank daar aan die COVID-19 regulasies voldoen word. Daar sal ook ’n verskaffer van sportklere en -skoene wees wat van die nuutste produkte gaan uitstal.

“Dit sal elke Saterdag gehou word en soos die getalle van deelname optel, wil ons dit ook een keer ’n maand, op ’n Sondag hou. Mense is ook welkom om enige tyde deur die week hier te parkeer en ’n roete te volg.”

Alhoewel die atlete hul eie roetes volg, beplan Eugene om UD Sports 5km en 10km roetes uit te werk en uit te merk. Die aanwysings daarvan sal in die agtertuin op ’n bord te sien wees. En sou daar die vraag ontstaan vir klein kompe- tisies, is UD Sports bereid om dit vanaf die perseel aan te bied.

“Dit is ’n ope uitnodiging aan drawwers, fiets-ryers en stappers. Ons wil mense aanmoedig om gesonder te lewe, meer aktief te raak en om die buitelug te geniet.

“COVID-19 het ons gewys hoe belangrik dit is om ’n gesonde leefstyl te handhaaf en om in die buitelug te kom,” sê Eugene.

  • Vir meer inligting bel Eugene van Rooyen by UD Sports 041 492 3068.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article