Strawwe kompetisie het hierdie jaar gewag op Riaan en Alton Senekal by die 15de Wêreld-Brandweerspele.

Dié spele is vanaf 7 tot 14 September in Aalborg, Denemarke gehou.

Riaan, ’n inwoner van Gamtoos, en sy broer Alton, ’n Gqeberha inwoner, is albei stasie-offisiere by die KwaNobuhle brandweerstasie. Hulle neem al sedert 2010 deel aan die spele wat elke twee jaar plaasvind.

Albei stem saam dat die kompetisie redelik strawwer was hierdie jaar, met Olimpiese en Statebondspele atlete onder die mededingers.

Dit het egter nie die Suid-Afrikaanse span gekeer nie. Tussen die 36 Suid-Afrikaanse deelnemers het hulle 52 medaljes teruggebring.

Riaan het goud gekry vir kragoptel en brons vir hamergooi, spiesgooi, skyfwerp en gewigstoot. Alton het deelgeneem aan die trappe-hardloop en brons gekry op die muurbal-baan.

senekal brandweer

Riaan en Alton Senekal het weer ’n klomp medaljes ingeryg by die 15de Wêreld-Brandweerspele in Aalborg, Denemarke.

Maar die hoogtepunt van die spele was toe hulle weer met die goud by die hoefystergooi-dubbels weggestap het.

Hulle moes die hoefystergooi-enkels ’n mis gee hierdie jaar omdat dit op dieselfde tyd as die muurbal en hamergooi gehou is. Alton het dit amper tot in die kwartfinaal van die hoefystergooi-enkels gemaak.

Ná sy muurbalwedstryd het hy terug gejaag om te kyk of hy nie miskien kon deelneem nie. Hoewel hy die eerste twee rondes gemis het, val hy toe by die derde ronde in en gooi 41 punte.

“Ek het net-net die kwartfinaal gemis. Hulle het gesê dit was baie naby,” vertel hy.

“Die goud vir die horseshoe dubbels: ek is baie bly oor dit. Ons het gegaan vir dit. Dit was ons hoogtepunt,” sê Riaan.

“Die veld waar ons dubbels gegooi het, is nie soos die een waar ons hier oefen nie. Ons het op die gras gegooi. Ons kry bietjie tyd om te oefen voordat ons gooi vir punte. Daai horseshoe bump die hele wereld vol.

“Maar Alton het ’n ander manier van gooi as ek. En hy gooi steady. Ek moes toe maar vinnig sy manier van gooi leer.”

Hulle het in die finale teen Swede met twee punte die goud gewen.

Die trappe-hardloop, sê Alton, was ’n heel ander storie. Hoewel Riaan al vantevore aan dié item deelgeneem het, was dit Alton se eerste keer en dit was ’n harde een om aan te pak.

“Ek het swaargekry. Dis 240 trappe wat jy klim en dis baie styl. Dis soos cross-country gemeng met trappe. So, jy hardloop ’n stuk op grondpad, dan kry jy jou eerste stel trappe. Dan hardloop jy weer grondpad en dan weer trappe, ensovoorts,” sê hy.

“Die hele baan was seker net meer as 1km, trappe ingesluit. Dit was so hard. Ek het regtig gedink met dit wat ek gedoen het om voor te berei, sou ek redelik okay doen, maar ek was nie in medalje contention nie. Ek sal dit weer doen, maar my voorbereiding sal definitief anders wees. Ek wil dit weer doen net om vir myself te wys ek kan verbeter.”

Die volgende Wêreld-Brandweerspele sal in 2026 in Saoedi-Arabië plaasvind.

Hulle is van plan om weer hulle gewone lysie van items – wat toutrek en hoefystergooi-enkels insluit – daar aan te durf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article