Die UD Express se 2022 Feestyd-voorbladbaba, Saskia de Lange, is op 28 Februarie 2022 gebore en oor tien dae gaan sy haar eerste Kersfees vier.
Saskia, of Sassie soos sy ook genoem word, is Rudi en Elzette de Lange van Despatch se jongste dogter en ousus Nikita is vyf jaar oud.
“Saskia is ‘n baie maklike baba met ‘n spontane persoonlikheid. Sy is so vriendelik en 99% van haar dag is sy gelukkig en lag sy,” sê Elzette.
“Ons het baie lank gewag vir beide ons kinders en Saskia is beslis ‘n lig in ons lewe en ‘n oneindige plesier. Sy lyk dalk op ‘n druppel na ousus, maar geen twee kinders het dieselfde persoonlikheid nie.”
Saskia se eerste Kersfees is saam met haar familie, oupa en ouma De Lange, sowel as oupagrootjie.
“Haar eerste geskenkie is ‘n Fischer Price laugh and learn smart stages beertjie, sowel as ‘n paar ander opvoedkundige speelgoed,” sê Elzette.




