STAP en skilder. Dit is van die dinge waarmee Sandra Nell (71) haarself wil besig hou na haar “tweede af-trede”.
Vir die afgelope 11 jaar was Sandra ’n bekende by New Life Crisis Pregnancy Centre in Caledonstraat op Uitenhage, waar sy verantwoordelik was vir die administratiewe take van die sentrum. Sy het aanvanklik as ’n vrywilliger by die sentrum begin werk.
Sandra se “eerste aftrede” was nadat sy vir 30 jaar verbonde was aan die departement van sosiale ont-wikkeling.
“My hart was maar altyd in welsynsorg. Nou gaan ek na my eie omsien. Ek wil nou net doen wat vir my lekker is,” sê Sandra.
Alhoewel sy amptelik aan die einde van 2019 afgetree het, is sy steeds by New Life bedrywig en help om haar opvolger behoorlik touwys te maak.
Sandra is ’n lid van die Natura-stapgroep wat op Maandae koers vat die natuur in. Saterdae neem sy as stapper deel aan Park Runs.
Johanna George, direkteur van New Life Crisis Pregnancy Centre sê hulle gaan Sandra mis. “Sy mag nie haar telefoonnommer verander nie, want ons wil nog op haar nommer druk.”





