Stephan Senekal, Alton Senekal se jonger broer, saam met Buksie nadat die hond vir byna twee weke weg was. Foto:VERSKAF

VIR 13 dae was Buksie skoonveld en sy mensemaats het al die ergste begin vrees.

Maar skaars het ’n foto van Buksie verlede week in die UD Express verskyn, of ’n man bring toe vir Buksie terug

“Ek was só bly om Buksie terug te kry! Maar ek is spyt dat ek nie die samaritaan wat Buksie terugbesorg het se besonderhede of ’n foto van hom met die hondjie geneem nie. Baie dankie aan dié man,” sê Alton Sene-kal, brandweerman by KwaNobuhle-brandweerstasie.

Daar was groot hartseer in die Senekal-huishouding op Uitenhage nadat hul Buksie, ’n miniatuur Dobermann/worshond-kruising op Saterdag, 18 Julie, in Jeffreystraat vermis geraak het.

Volgens Senekal het die weldoener die berig verlede week in die UD Express gelees en hom gebel.

“Hy het blykbaar die hond naby Jubileepark-begraafplaas opgetel en versorg.”

Die beloning wat aangebied is, is aan die weldoener oorhandig.

“’n Mens se grootste bekommernis is dat jy nie weet nie in wie se hande die hond is terwyl hy weg is. Maar toe ons Buksie terugkry, was hy glad nie maer nie. Ek kon sien dat die man hom kos gegee en mooi versorg het.”

Senekal sê Buksie was aanvanklik effens verward toe die wledoener hom terugbring.

“Hy het sulke sagte tjankies gegee toe ek hom optel. En toe gaan haal hy sy bal sodat ek dit vir hom moet gooi. Sy hele lewe draai om die speletjies met daardie bal.”

Buksie was nie gesteriliseer nie en gevolglik het die reuk van ’n ‘teef op hitte’ hom gereeld op die rondloop gehad, maar dié streke is nou op ’n end.

“Hy gaan die week in om reggemaak te word. Hopelik sal hy dan rustiger raak. Intussen hou ons hom agter slot, draad en grendel,” sê Senekal.

  • Eienaars van honde en katte word aangeraai om hul troeteldiere te laat steriliseer. ’n Halsband met kontakbesonderhede om die diere se nekke help ook om die eienaars op te spoor. ’n Ander opsie is om ’n mikroskyfie onder die troeteldier se vel te laat inplant. Met ’n skandeerder kan alle inligting daarop geregistreer word en kan ’n dier spoedig weer met sy of haar eienaar herenig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article