Die OP Span, van links (agter), Fernando Moos (onderkaptein), Jacques Prins, Georg Michau, Tyrese Brouers (kaptein), Liam Kaizer, Clintin Salters, JP Claasen, (tweede ry van agter) Clarance Swartz, Luciano Cowie, Ethan Vaaltyn, Ethan Maree, Sihle Teleza, Edwill Jantjies. In die tweede ry van voor is Franklin Makwanie, Masixole Ncamani, Rodney van Rooyen, Mfundo Belu, Rodwill Michaels, Algernon Bruintjies. Voor is Jeandre Schoultz (hulp-afrigter), JD Esterhuizen (hoofafrigter), en Fernando Uithaler (tegniese adviseur).

Foto: Verskaf

Negentien spelers van Bergsig Skool in Kariega is verkies vir die o.18 Oostelike Provinsie (OP) LSOB Cravenweek-span wat deelgeneem het in Welkom gedurende die eerste week van die Junie vakansie.

Dit was vir hulle ’n ongelooflike ervaring en het al drie hul wedstryde gewen en met die louere huis toe gestap en die OP is as nasionale kampioene aangewys.

Die OP het dag een afgeskop deur die Blou Bulle met 54-0 af te ransel.

Speler van die wedstryd was A. “Despatch Express” Bruintjies wat vier maal oor die witlyn gaan kuier het.

Op dag twee het hulle die toernooi gunstelinge, Westelike Provinsie gespeel en hul met 29-12 kafgedraf met Clayton Welgemoed wat as man van die wedstryd aangewys is. Sodoende het die Oostelike provinsie op dag drie op die hoofwedstryd teen die magtige Boland meegeding.

Dit was ’n naelskraap affêre met die OP se losskakel Edwil Jantjies wat vroeg onder die pale gaan kuier het en die OP vroeg met 7-0 laat voorloop het. Die Boland het onmiddellik teruggeveg en was tot en met 10 minute voor verstreke tyd voor met 10 punte teenoor die 7 van die OP. Die Oostelike Provinsie kon toe met baie deursettingsvermoë op die einde die wedstryd beklink deur ’n puik drie van Bergsig se eie Franklin “Sous” Makwanie.

Die OP wen dus die naelbyt finale wedstryd met 12 – 10. JP “Big Hit” Claasen was aangewys as speler van die wedstryd.

“Ons is ongelooflik trots op ons kinders en skool wat sulke prestasies behaal. Deursettingsvermoë en harde werk maak dat ons kinders die hoogste vlak bereik. Ons slagspreuk, #bringdietrotsweerterug is iets wat na aan ons hart lê en ons elke dag na streef,” het hoofafrigter, JD Esterhuizen, gesê.

Na afloop van die toernooi by die gala-aand spoggeleentheid was daar ’n SA LSOB span gekies wat by die akademieweek gaan deelneem het by Jeppe Seunsskool in Johannesburg. Nege van Bergsig se sterre het die span gehaal om by die hoofstroom toernooi te gaan deelneem. Tyrese Brouers en Edwill Jantjies, albei van Bergsig, is as Die SA span se kaptein en onderkaptein onderskeidelik aangewys.

Bergsig spog ook met die afrigters van die O.P LSOB Cravenweek-span: JD Esterhuizen (hoofafrigter), Jeandre Shoultz (hulp-afrigter) en Fernando Uithaler (tegniese adviseur).

In die foto is die SA Span, van links (agter), Ethan Vaaltyn, Georg Michau, Tyrese Brouers (kaptein), Liam Kaizer en JP Claasen. Voor is Luciano Cowie, Rodney van Rooyen, Rodwill Michaels en Edwill Jantjies (onderkaptein).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article