Hy staan nog nie hoog in sy skoene nie, maar Reinhart Viljoen van die Laerskool Sonop op Despatch, het al ’n lang lys sportprestasies agter sy naam.
Dié graad 6-seun met die breë skouers lyk sommer soos ’n skrumskakel en dit is dan ook nie verbasend dat hy op die atletiekveld in gewigstoot, diskus en spiesgooi uitblink nie.
Reinhart is onlangs gekies om die Oos-Kaap op die rugbyveld uit te draf. Hy is onlangs ingesluit in die o.12-span wat later die maand aan ’n toernooi by die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal gaan deelneem. Daarby is Reinhart ook genooi om ’n lid te wees van ’n toerspan, wat na afloop van die Hoër Landbouskool Marlow se jaarlikse o.13-toernooi, aangewys is om in Ierland te gaan speel.
In 2017 en 2018 het Reinhart tot by die SA-kampioenskap in diskus en gewigstoot gevorder en by vanjaar se SA-kampioenskap het hy ook aan spiesgooi deelgeneem nadat hy plaaslik ’n 12-jaar oue rekord flenters gegooi het.
Sonop het Reinhart in 2017 en 2018 as die skool se belowendste o.11- rugbyspeler aangewys. Boonop is dié knaap net so knap op die krieketveld. In 2017 is hy aangewys as Sonop se beste o.11-bouler en as die veelsydigste o.11-krieketspeler in 2018.
Benewens al dié prestasies hand-haaf Reinhart boonop ’n 80%-gemiddeld.




