Elandré Meyer, Warriors Junior Rugbyklub se afrigter saam met Andrew “Oom Boy” Jacobs (stigter en voorsitter) en Lindatno Morris (ondervoorsitter).

Foto: Heilie Combrinck

Om rugbytalent op grondvlak te ontwikkel vra ‘n besondere gawe. Andrew “Oom Boy” Jacobs van Warriors Junior Rugbyklub het so ‘n gawe en beywer hom sedert 2015 om seuns wat nie in skoolrugbyspanne ingesluit word nie, af te rig.

“Ons het al baie sukses bereik met dié outjies wat nie by hulle skole in spanne speel nie. Ons spanne speel teen skoolspanne en gee hulle soms goeie opdraende,” sê Jacobs, voorsitter en stigter van die Warriors Junior Rugbyklub.

Dié klub is by die Oostelike Provinsie Rugbyunie geaffilieer om met o.9, o.11 en o.13 spanne teen laerskole op Kariega kragte te meet.

“Dit gaan goed. Maar wat gebeur is as dié seuns goed speel, sê die skole-afrigters vir hulle om vir die skool te speel en nie meer vir ‘Oom Boy’ se span nie. Dan moet ons ander spelers soek.

“Jy kan nie oornag ‘n speler afrig nie. Dit neem baie tyd, dissipline, en baie sweet. Ons neem net seuns in wat in skole is en as hy nie in ‘n skool is nie, neem ons hom na sy naaste skool en skryf hom in.

“Warriors het alles wat nodig is vir rugby, van truie, balle, tot fluitjies. Dit is net vervoer na wedstryde toe wat ‘n probleem is.

“Ons maak gebruik van ons eie vervoer om die kinders by wedstryde te kry. Dit sal van groot hulp wees as dié transport dalk geborg kan word, of as iemand bereid is om ons spannetjies gratis te vervoer,” sê Jacobs wat in die 1960s vir Gardens Rugbyklub gespeel het.

Volgens Lindatno Morris, ondervoorsitter van die klub, werk hulle op grondvlak in die gemeenskap om te help om die seuns betrokke te kry in sport.

Gangsterism is groot. Seuntjies raak op laerskoolvlak betrokke. ‘n Paar weke gelede is só ‘n jong lewe in Blikkiesdorp geëis omdat die kind met dwelm-dinge deurmekaar was,” sê Morris.

“As junior rugbyklub probeer ons om die jeug van môre te bou deur eerder aan sport deel te neem.

“Ons haal die seuns van die straat af, maak hulle speel, en ons afrigter sien die talent en brei die outjies se vaardighede in rugby.”

Elandré Meyer, afrigter van Warriors Junior Rugbyklub sê, “dit is vir my lekker, ek kan dadelik sien as ‘n outjie ball sense het. Wanneer hulle die game verstaan, gee dit die seuns soveel meer selfvertroue. Van hulle doen dan sommer ook beter in hulle leerwerk.

“Baie van die outjies wat vir ons gespeel het, speel nou vir hoërskole en buiteklubs.”

Die Laerskool-rugbyoefeninge het begin en die eerste wedstryde word eersdaags op Woensdae gespeel.

Warriors oefen Maandae tot Donderdae van 15:00 tot 16:00 op die Derrick Ferreira-rugbyveld in Rosedale.

Jacobs sê seuns wat by skole ingeskryf is, maar nie vir dié skole rugby speel nie, is welkom om vir Warriors-oefeninge aan te meld.

  • Vir meer inligting bel Andrew Jacobs by 072 685 1098 of Lindatno Morris 078 175 3847.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article