Ruben Ross (18) van Hoërskool Despatch het ‘n goue medalje in diskus by die Suid-Afrikaanse sportvereniging vir liggaamlik gestremdes (SASAPD) se kampioenskapstoernooi in Kaapstad gewen.

Foto: Heilie Combrinck

Despatch spog met nóg ‘n Suid-Afrikaanse sportkampioen. Dié keer is dit Ruben Ross (18) ‘n gestremde atleet, wat ‘n goue medalje in diskus by die pasafgelope Suid-Afrikaanse sportvereniging vir liggaamlik gestremdes (SASAPD) se kampioenskapstoernooi in Kaapstad gewen het.

“My mikpunt was om die rekord te verbeter. Met my afstand van 19.29 meter het ek dit gemis, maar was wel die wenner in die o.20 F35-klas met my totale puntetelling van 49,” sê Ruben, ‘n graad 12 leerder by Hoërskool Despatch.

Dit was die 61ste SASAPD-toernooi en word jaarliks deur Toyota geborg. Vanjaar het sowat 650 atlete in die Groenpunt-stadion, Kaapstad, deelgeneem. Dit is ‘n uitstekende geleentheid waar belowende atlete met fisieke gestremdhede kan meeding. Dié toernooi word ook deur Wêreld-Para-atletiek onderskryf en atlete kan dus hier kwalifiseer om op internasionale vlak deel te neem.

Ruben het 18-jaar gelede, as ongebore baba in sy ma Cindy se baarmoeder ‘n beroerte gekry. Mediese ondersoeke sowat twee maande na sy geboorte het bevestig dat Ruben die beroerte aan die regterkant van sy brein gehad het – wat ‘n invloed op die spiere aan die linkerkant van sy liggaam het.

Met vanjaar se atletiekseisoen agter die rug, gaan Ruben nou sy diskus bêre en kragoptel aanpak.

“Ek is nog besig om die waters te toets in kragoptel en is baie opgewonde. Ek oefen sedert September 2022 by oom Jacques Fourie se gym en het gesien hy het verskriklik baie trofeë, medaljes en geraamde sertifikate uit sy dae toe hy ‘n kragopteller was. So, nou wil ek dit probeer in die wintermaande wanneer daar nie atletiek is nie.”

Vir Ruben is die ironie dat Malana Gerber wat in 2019 sy potensiaal in diskusgooi raakgesien het, hom per toeval na al die jare weer gesien het, en hom dié keer gemotiveer het om met kragoptel te begin.

“Tannie Malana het my ma destyds aanbeveel om my by SASAPD te registreer. Nou het sy my vertel haar dogter Ilze-Mari Maritz, is ‘n internasionale skeidsregter in kragoptel. Al die dinge laat my weereens besef hoe die Here dinge laat gebeur en mense oor jou pad kom vir ‘n rede.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article