Na ’n stilte van etlike jare het die musikante van die eens gewilde Kariega langarmdans-orkes, Royal Sounds, besluit dit is tyd om weer hul instrumente op te neem en die dansbane vol te kry.
Kenneth Kohl, Royal Sounds se tromspeler sê, “Langarm-musiek het stil geword hier op Uitenhage. Baie musikante het opgehou om musiek te maak en baie musikante wat groot spore in ons plaaslike musiekwêreld gemaak het is oorlede. Wat dit ook nog moeilik maak is dat ons sale afgebreek word.”
Volgens Kohl is dit tyd om positiewe gebeure in gemeenskappe te laat posvat. Daarom wil hulle langarmdanse terugbring sodat die mense weer kan dans en die musiek geniet.
Die Royal Sounds se orkeslede is Clifton Uithaler (tromme), Richard Harris (klawerbord), Herbie Jacobs (saxofoon), Cobus Flam (ritmekitaar), Benjamin Miggels (baskitaar), David Mentoor (kitaar) en Kenneth Kohl (tromme).
- Royal Sounds gaan ’n Kerfeesbal op 24 Desember in die Uitenhage Stadsaal aanbied van 20:00 tot 23:45. Kaartjies is R50 en kan bespreek word by Clifton Uithaler 068 504 4095 of Herbie Jacobs 081 730 8294.
– UITGEREIK: ROYAL SOUNDS



