As daar iemand is wat wéét hoe om ’n turksvy in allerlei lekkernye om te tower, dan is dit Rosie Mtyingizane (65) wat na 35 jaar diens by die Uitenhage Historiese Museum afgetree het.
Sy was vir dekades deel van die raakvatspan wat gesorg het dat Kariega se destydse Turskvyfees een van die beste feeste nog in die Oos-Kaap was. Die turksvy was só sinoniem met Uitenhage, dat Tolofiyeni (turksvy in isi-Xhosa) selfs oorweeg is as een van die vier name vir dié dorp se naam-verandering.
Rosie onthou die turksvyfeeste nog soos gister.
“Oe … dit was goeie tye daardie. Baie harde werk vir maande lank, maar ’n baie lekker tyd. Mense kon nooit glo dat ons soveel eetgoed van ’n turksvy kon maak nie.
“Dit was Alta Heyman wat my alles oor die turksvy geleer het. Sy was kwaai, maar ons was almal baie lief vir haar. Sy het altyd gesê steel met jou oë nie met jou hand nie … kyk wat ek doen en gaan doen dit beter.”
Rosie vertel hoe hulle in Oktober reeds begin het om die jong turksvy-blaaie te pluk en te verwerk vir die gewilde fynproewersgereg Nopalitos, wat soos kerrieboontjies proe en as ’n slaai of saam met vleisgeregte geniet kan word.
“Ons het ook turksvydadels, konfyt en lekker turksvystroop gemaak en dan het Oom Fasie mos daar by die museum kom turksvy-witblits stook. Sjoe, daai goed het die mense goed ge-skop, dit was ’n gevaarlike ding.”
‘n Ander belangrike diens wat Rosie aan die gemeenskap gelewer het, was om skoolgroepe by die Cuyler Hofstede se plaasmuseum te leer hoe om kos op die vuur te maak, misvloere te smeer, koeie te melk, eiers uit te haal, wors te stop, pap te maak en allerhande ander lesse oor dier en natuur.
“Dit is wat ek die meeste mis, daar-die kinders. Dit was vir my die heel lekkerste om die kinders oor plaaslewe en geskiedenis te leer. Nou nog, wanneer ek in die straat loop hoor ek iemand roep … ‘Ouma Rosie, Ouma Rosie’ … dan weet ek dit is een van die kinders wat daar by my by die plaasmuseum was.”
Rosie sê sy het ook as gids die besigtigingstoere deur die ou Cuyler-huis geniet. “Ek is baie lief vir geskiedenis en wanneer ek groepe deur die huis gevat het, het ek my ingeleef in daar-die tyd. Ek hou van outydse goed.”
Rooster- en vetkoeke bak is ook een van Rosie se voortreflikhede. Sy het gereeld groot bestellings vanuit die plaaskombuis gebak en sê sy gaan aanhou daarmee, net uit ’n ander kombuis.
“Ek wou nie aftree nie, maar die computer het gesê dit is nou tyd, my jare is nou genoeg, ek moet retire.”
Balise Mvoko, bestuurder van die Uitenhage Historiese Museum, sê Rosie was die hartklop van Cuyler Hofstede Plaasmuseum.
“Rosie weet alles van Cuyler Hofstede. Sy ken elke item en artefak soos die palm van haar hand.
“Sy was passievol oor haar werk en veral oor die kinders. Selfs die diere by die plaasmuseum is lief vir haar en het waar sy gestap het agter haar aangestap.
“Niemand kan die stories oor Cuy-ler Hofstede met soveel passie vertel soos Rosie nie. Ons gaan haar baie mis, sy was ’n groot aanwins vir die Museum, maar ons wens haar net die beste toe met haar aftrede.”



