’n Vriendelike gees maak só ’n groot verskil dat wanneer dié mens weg is, sukkel die wat agterbly met die leemte.
Dít is, in kort, die verhaal van Piet Tolmie (70), die vriendelike man in ’n rolstoel op ’n stoep in Hoër Drostdystraat, Kariega. Voor sy skielike dood was hy ’n bekende gesig waar hy daar gesit en waai het vir verbygangers en sommer ook ’n ogie oor die straat se veiligheid gehou het.
“Dankie aan almal wat ’n glimlag op Piet se gesig gebring het en vir hom gewaai het. Min het daardie mense geweet hoe ’n groot inspirasie hulle vir hom was. Dit het sy dag gemaak en die wêreld vir hom beteken,” sê Griet, Piet se weduwee.
Een van die mense wat Piet altyd gegroet het, was Re-althon George, ’n huurmotorbestuurder van Star Cabs.
“U pper Drostdystraat is deel van my roete. Ek het bewus geraak van die oom in die rolstoel op die stoep en hom begin groet. Later was dit deel van daaglikse roetine om te toet en waai wanneer ek daar verbyry.”
Op ’n dag het Celeste McNamara, ’n familielid van Piet en een van Re-althon se gereelde kliënte, hom gebel.
“Sy het gesê dat die oom siek is en hy moet hospitaal toe, maar die ambulans kan hom nie kom haal nie. Ek het ander ouens van Star Cabs gevra om my kliënte te help terwyl ek die oom gou hospitaal toe vat.
“Ai, my hart was seer toe niemand by die hospitaal my wou help om die oom uit die kar te haal nie. Hy was ’n groot man en dit was moeilik om hom uit te kry, veral omdat hy net een been gehad het. Dieselfde aand het Celeste gebel om te sê die oom het gesterf,” sê Re-althon.
Volgens hom gebeur dit gereeld dat hulle as huurmotorbestuurders in noodgevalle mense na die hospitaal moet neem.
Om uiting aan hul waardering vir Piet van Upper Drostdy se vriendelikheid te gee, het Star Cabs ’n plan gemaak.
Celeste vertel: “Dit was die mooiste en hoendervleis oomblik toe Star Cabs se karre ná Piet se afsterwe hier in ’n konvooi gestop en kom groet het.
“Die blomme en kaartjie van Star Cabs se manne was ook die enigste blomme en kaartjie wat Griet met Piet se afsterwe gekry het.”
Griet sê dit het haar diep geraak, “Die Star Cabs manne se eerbetoon was vir my ‘n baie mooi gebaar. Re-althon het die lied Jealous of The Angels gespeel. En ja, Skattebol Piet is nou tussen die engele. Elke dag saam met hom die jaar en ses maande wat ons getroud was, was wonderlik. Hy het my Bollatjie Roos genoem. Soms hoor ek hom nog my so roep.”
Griet praat net met dankbaarheid oor Star Cabs se Re-althon. “Hy het niks ontsien om my man te help nie. Piet was ’n groot man en Re-althon het hom man-alleen in die huurmotor gehelp. En ook by die hospitaal gehelp totdat hy opgeneem is.”
Re-althon sê, “Alhoewel oom Piet weg is, val my oë nog elke keer wanneer ek in Upper Drostdystraat ry, op die leë stoep. En al is daar niemand wat waai nie, bring die gedagtes aan die oom in sy rolstoel op die stoep ‘n glimlag op my gesig.”




